Local sportSport

Ma en ouma van Komatipoort tel onder SA se beste atlete

Twee Komatipoort-atlete, Lee du Plessis (63) en Issabel du Plessis (36), het verlede Saterdag by die Gauteng-Noord Meesterskampioenskappe vier goue medaljes, twee silwer en 'n brons verwerf en vir die SA's gekwalifiseer.

Twee plaaslike meestersatlete van Komatipoort, Lee du Plessis (63) en Issabel du Plessis (36) is ‘n paar medaljes en ‘n nuwe rekord ryker nadat hulle verlede Saterdag by die Gauteng-Noord Meesterskampioenskappe in die Pilditch Stadion in Pretoria uitgeblink het.

Lee, ‘n veteraan, het ‘n hoogspringrekord verbeter, goud in dié afdeling verwerf en ook goue medaljes vir verspring, 100 m en 200 m gewen.

Sy het sedert 2015 al vier keer vir die SA’s gekwalifiseer en is in die SA Meesterspan ingesluit om oorsee te gaan deelneem.

LEES: Atleet het borge nodig om haar tot by Meesters Wêreldkampioenskappe te kry

Dit was egter Issabel se eerste meestersbyeenkoms en sy het silwermedaljes vir die 800 m en 1 500 m, asook ‘n brons vir die 3 000 m verwerf.

Sy het op skool laas aan atletiek deelgeneem en was tot onlangs ‘n marathonatleet. Lee het haar egter aangemoedig en Issabel het besluit om veld- en baanitems aan te pak.

Sy was oorweldig deur die indruk-wekkende grootte van die Pilditch Stadion en het, ten spyte van senuwees wat knaag, uitstekend gevaar.

LEES: Personal safety is key during fitness training

Die twee atlete het vir die SA Kampioen-skappe in Oudtshoorn gekwalifiseer, maar sal weens onvoldoende fondse ongelukkig nie kan deelneem nie.

Lee en Issabel was die enigste twee vroulike deelnemers wat by Mpumalanga Masters Track and Field geregistreer is. Dit is die eerste keer wat Lee namens haar eie provinsie kon deelneem, nadat sy vir etlike jare slegs by Gauteng kon registreer.

Aangesien daar min meestersatlete in die provinsie is en die meeste atlete in die Onderberg slegs aan marathonne deelneem, het Lee onlangs begin om plaaslike atlete in te lig oor meestersatletiek. Dit het gelei tot Issabel se deelname.

Volgens Lee is die pad van ‘n meestersatleet ‘n eensame een. Hulle moet gewoonlik oefentyd tussen werk en familietyd inruim.

Lee rig ook sokker, atletiek en die skool se eerste hokkiespan af en kry dus hoofsaaklik in die aande of oor naweke tyd vir oefen. Sy vertel dat sy ook saam met die kinders oefen en hulle haar help verbeter. “‘n Mens kan mos nie jouself dophou nie, so die kinders gee my raad oor hoe ek my postuur of tegniek kan verbeter,” vertel Lee.

Dit verg ook opoffering van atlete se gesinne en baie selfdissipline, want atlete moet na ‘n lang dag by die werk gaan oefen in plaas daarvan om TV te kyk of beskikbaar te wees vir gesinne of vriende.

Anders as in die stedelike gebiede, is daar nie afrigters vir atlete in die platteland nie en is hulle maar op enige beskikbare hulp aangewese.

Lee noem dat Owen Ngwenya, een van Komatipoort Akademie se uitblinkatlete net voor die vakansie spesiaal vir ‘n week langer na skool gebly het om haar met voorbereidings vir die provinsiale byeenkoms te help.

LEES: Meestersatleet berei voor vir internasionale byeenkoms

Dit is Lee se grootste droom om Suid-Afrika by ‘n internasionale byeenkoms te verteenwoordig, maar weens ‘n tekort aan finansiering kon sy dit tot dusver nie verwesenlik nie.

Lee, wat ‘n onderwyser by Komatipoort Akademie is, vertel dat sy alles van haar sweetpak tot inskrywingsgelde uit haar eie sak moet betaal. Sy het dus borge broodnodig, maar het tot dusver gesukkel om genoegsame finansiële ondersteuning te werf.

Sy hoop egter om, met die ondersteuning van die gemeenskap en ander borge, in September as deel van die SA span in Venisië deel te neem.

Belangstellendes en potensiële borge word genooi om Lee by 076-611-9262 te skakel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button