ISG Pumas vol moed vir kragmeting teen Namibië môre
Gegewe hulle spelpeil, kan ondersteuners Saterdag 'n eensydige tuiswedstryd verwag wanneer hulle teen die Welwitschias van Namibië, wat tans die laaste plek op die punteleër beklee, te staan kom.

Die onoorwonne ISG Pumas het die afgelope naweek ‘n welverdiende eerste plek op die SuperSport Rugby Challenge-punteleër ingeneem nadat hulle met die Tafel Lager Griquas op Nelspruit Rugbyklub afgereken het.
Gegewe hulle spelpeil, kan ondersteuners Saterdag ‘n eensydige tuiswedstryd verwag wanneer hulle teen die Welwitschias van Namibië, wat tans die laaste plek op die punteleër beklee, te staan kom.
Namibië het die afgelope vyf wedstryde ‘n gemiddeld van nege drieë per wedstryd afgestaan en beskik tans oor geen punte op die punteleër nie.
Die tuisspan lê egter eerste met 25 punte, gevolg deur die Griquas op 21 na afloop van Saterdag se wedstryd. Vyftien veranderinge is aan die begin vyftiental aangebring, wat deel vorm van hoofafrigter Jimmy Stonehouse se doelwit om elke speler ‘n speelkans te gee.
Vyf nuwelinge, waaronder Piet-Louw Strauss, Giovanne Snyman, Japie Kleinhans, Zwelakhe Siluale en Stephan de Jager, sal Saterdag vir die eerste keer hulle buiging vir die Pumas maak.
Strauss is in die begin vyftiental ingesluit, terwyl Snyman, Kleinhans, Siluale en De Jager as plaasvervangerbank sal begin. Marko Janse van Rensburg speel in sy 36ste wedstryd, en neem sedert sy aansluitng by die Pumas die leisels.
As lusmaker speel Nelspruit Rugbyklub in ‘n voorwedstryd teen Middelburg, dus maak die hekke reeds om 11:00 oop. Kaartjies beloop R40 vir volwassenes en R10 per kind en is by Mbombela Stadion se kaartjiekantoor beskikbaar. Die Pumas se volgende kragmeting is teen die Down Touch Griffons in Welkom.

