Local sportSport

Clark-gesin skiet ‘n kolskoot by SA kampioenskap

Volgens pa Geon, neem hulle as 'n familie altyd saam aan sport deel, of dit op die Action Cricket-veld of by die skietbaan is.

As die Clarks eers ‘n teiken in hulle visier het, mis hulle nie sommer nie. Dit is onlangs weer by SA Sport en Jag se nasionale baansportkampioenskap in Polokwane bevestig.

Volgens pa Geon, neem hulle as ‘n familie altyd saam aan sport deel, of dit op die Action Cricket-veld of by die skietbaan is, “ons is altyd toeskouers of deelnemers”. Die Clarks, wat almal vir Mpumalanga Laeveld skiet, het behoorlik Polokwane aan die brand geskiet.
Laevelder het voorheen oor Mareliza Coetser (née Clark), berig.

VOORSKOU: Perdfris baba vir vrou met ongeneeslike siekte

“Hashimoto se harsingontsteking is ‘n siekte wat ons idee van normaal heeltmal verander het.” So het sy in 2017 vertel toe sy met dié uiters seldsame siekte gediagnoseer is.

Dit is ‘n outo-immuunsiekte wat deur ‘n onderaktiewe skildklier veroorsaak word. Daar is geen geskiedenis van hierdie siekte in haar familie nie en kenners meen dat slegs een pasiënt per jaar wêreldwyd daarmee gediagnoseer word. Ondanks ‘n onlangse terugslag, het sy steeds deelgeneem en met haar rolstoel rondbeweeg van skietpunt tot skietpunt.

Sy het in die senior dames, in vyf afdelings deelgeneem. Sy behaal ‘n tweede plek in die ope handwapenklas, ‘n derde plek in die standaard-handwapen en ‘n derde plek met die kompak-handwapen. Geonette, haar suster, en Mareliza het al van vroeg af saam geskiet, eers met hul pa se .22 en as volwassenes skiet hulle met hul eie vuurwapens.

Geonette, getroud met Herman Sauer, en hulle ma Lynette, het die ope handwapen senior dames gewen en met ‘n goue medalje weggestap. Geonette se bydrae by die veergeweer damesspan help hulle om ook hier goud in te palm.

Johan Coetser, Mareliza se man, het die senior mans-veergeweerspan gehelp om met brons weg te stap.
Lynette het in die vyf items waarin sy deelgeneem het, in vier koning gekraai. Sy het die kompak-handwapen vir die tweede agtereenvolgende jaar, en in ope handwapen, standaard-handwapen en veerlugpistool, gewen.

Sy is ook as die nasionale senior dames- baansportkampioen vir 2019 aangewys.
Geon het in sewe afdelings deelgeneem, waarin hy goue medaljes in veerlugpistool, veergeweer, .22-geweer en ‘n tweede plek in die ope handwapenkategorie verower het. Hy is ook aangewys as die nasionale senior mans- baansportkampioen van 2019.
Toe Geon en Lynette ontmoet het was sy ‘n vegetariër. Maar, Geon was ‘n jagter. Toe sy moes kies tussen groente en Geon, was dit nie onderhandelbaar nie.

Lynette het haar eerste handwapen as geskenk by hom gekry toe sy 19 was. Binne twee jaar het sy haar eerste vlakvark geskiet. “Skiet as ‘n sport raak deel van jou menswees. Lynette se 21ste verjaarsdaggeskenk was haar eerste jaggeweer,” vertel Geon.
Om te skiet, is soos om ‘n goeie sethou op die gholfbaan te slaan, of daardie monster van ‘n vis te haak. “Baie jagters stap jaarliks in ‘n veld in en skiet ‘n bok. Daar is altyd een of ander verskoning hoekom daar ‘n kwesskoot of ‘n misskoot was. Ons lede skiet gereeld omdat die fasiliteiet en kompetisies beskikbaar is. Hulle ken hulle wapens en kan dit met baie vertroue gebruik,” vertel hy.

“Kinders moet van vroeg af respek leer vir vuurwapens. Te veel mense is bang om hulle vuurwapens te gebruik. SA Sport en Jag skep geleenthede vir almal wat ‘n wapen het om gereeld te skiet en vertroud te bly daarmee. Hulle bied gereeld kursusse aan om toegewyde statusse te verkry as jagters en sportskuts. Skiet is ‘n familiesport.

Die Sport- en Jagfederasie se skiettabelle skep geleenthede waar almal kans kry om deel te neem. Die mense wat gelukkig genoeg is om lisensies vir vuurwapens te hê, moet elke geleentheid aangryp om hul wapen te gebruik, en te verseker dat hulle vertroud is met die veiligheid en diensbaarheid van daardie wapen,” het Geon afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button