Local sportSport

NHS verloor Mpumalanga T-20 finaal met twee paaltjies

Die Nellies het die loot gewen en besluit om eerste te kolf.

Die Mpumalanga T20-finaal tussen NHS en Cambridge Academy van Witbank het Woensdag 18 September te Hoërskool Nelspruit plaasgevind.

Lees ook: NHS se tuisbyeenkoms lewer groot prestasies

Die Nellies het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Die openingskolwer, Chyle van Zyl, het slegs twee lopies aangeteken voor hy deur Arno Janse van Rensburg uitgevang is vanaf die boulwerk van Dian Eicker. Danksy ‘n skitterende beurt deur kaptein Jacques Vosloo, het die Nellies ‘n groot totaal van 185 in die 20 beurte op die telbord gesit. Jacques het 92 van net 51 aangeteken en het 10 viere en vier sesse geslaan. Cambridge se Zuan Swart het die Nellies onder druk geplaas en eindig sy boulbeurt met drie paaltjies vir net 25 lopies in vier beurte.

Cambridge was vinnig op die aanval en het met ‘n redelike vinnige tempo lopies aangeteken.

Die Nellies se boulers het ook nie teruggehou nie, en na die 15de beurt reeds vyf paaltjies geneem vir 131 lopies. Die besoekers het toe nog ‘n groottotaal van 55 lopies van net 30 balle benodig. Dit was egter Nathan du Toit (48 lopies van 26 balle) en Arno (45 lopies van 33 balle) se skitterende kolfbeurte wat Cambridge naby aan die wentelling gebring het. Renier Holtshausen het drie paaltjies vir 28 lopies in 2,5 boulbeurte aangeteken.

Die wedstryd het tot ‘n spannende einde geloop met die besoekers wat net sewe lopies in die laaste beurt benodig het. NHS se boulers en veldwerkers kon net nie die lopies keer nie en Cambridge wen met net twee paaltjies. Cambridge Academy is hierdie jaar die T-20 Mpumalanga-wenners.

Volgende speel NHS die nasionale Noord-Suid T20-toernooi vanaf 3 tot 6 Oktober te Pretoria. Die trekking van die groepe word regstreeks op die Groot Ontbyt op kykNET uitgesaai. NHS is saam met Hoërskool Menlopark, Wynberg Boys’ High School en Northwood in Groep C. Gaan volg gerus die Noord-Suid T20 Skolekriekettoernooi Facebook-bladsy om op hoogte te bly.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button