Local sportSport

Johan Orton vang die WB-eindstryd op kamera vas

Hy was daar die historiese oomblik toe Suid-Afrika se eerste swart Springbokkaptein, Siya Kolisi, die beker saam met die land se president omhoog gehou het.

Terwyl die meeste Suid-Afrikaners en Laevelders nou nog in ‘n beswyming is na die Springbokke se 20-punt oorwinning oor Engeland in Yokohama, vertel plaaslike fotograaf, Johan Orton, dat dit vir hom nog onwerklik is.

Orton, Laerskool Nelspruit se skakelbeampte, was daar toe Cheslin Kolbe om Owen Farrell geseil het. Hy was daar toe Makazole Mapimpi die eerste Suid-Afrikaner geword het wat vir dié land ‘n drie in ‘n Wêreldbekereindstryd kon druk.

Lees ook: Siya Kolisi’s Springbok journey began in Mbombela

En, daardie historiese oomblik toe Suid-Afrika se eerste swart Springbokkaptein, Siya Kolisi, die beker saam met die land se president omhoog gehou het. Orton was een van slegs 70 fotograwe wêreldwyd wat die ongelooflike voorreg gehad het om die eindstryd op kamera vas te vang.

Hy beskryf dit as een van die beste – indien nie die beste – naweke van sy lewe. “Was dit miskien ‘n droom?” vra hy homself dikwels af. “My eerste toer vroeër in die reeks was geborg. Toe Wêreldrugby my weer nader, het ek gedink – al moet ek ‘n lening by die bank aangaan – ek sou nie die geleentheid laat verbygaan nie,” sê hy en besef nou meer as ooit, veral nadat SA gewen het, dat hy vir die res van sy lewe met spyt sou teruggekyk het indien hy nie die wedstryd bygewoon het nie.

Lees ook: Boy from Mbombela is RWC final man of the match

“Só ‘n geleentheid kom net eenkeer oor jou pad. Ek is so bly ek het die geleentheid gekry te danke aan plaaslike borge Avinier, BetSA, KMIA, Amadwala / Circuffin, Frane Scrap Metal en Credo Accounting Services en hoofborge Canon SA, ASICS Rugby, Ramble Bag SA en King Price SA. Dis ‘n ervaring wat ek nooit sal vergeet nie. Dit gaan saam met my graf toe, en dit is iets wat ek vir my kleinkinders kan vertel.”

Teen 60 minute het Orton saam met fotograwe van Getty, Reuters en AP nog geen aksiefoto’s gehad nie. “Al die aksie was in die middel van die veld. Daar was byna geen aksie nie. Dit het egter in ‘n oogwink verander toe Mapimpi en Kolbe spogdrieë druk. Met die lig van die beker, het ek gehardloop om daar uit te kom, maar al foto wat ek kon kry was van die kant af.

Lees ook: Lowveld friends and family #backtheboks

Ek kon egter my weg na die middel vind toe president Cyril Ramaphosa saam met Kolisi die beker lig, en die foto het die voorblad van talle topkoerante gehaal – dit is wat die land wou gehad het,” vertel hy. “Die vonkelwyn het net-net voor albei se gesigte padgegee om ‘n skerp foto te kry.”

Na die wedstryd het slegs Getty en Reuters die regte gehad om in die kleedkamers foto’s en video’s te neem. Maar, Orton was ook daar. “Ek het met hulle gesels – aan hulle medaljes gevat, en ek het ‘n punt daarvan gemaak om letterlik met my skouer teen Prins Harry s’n te skuur – net om te kan sê ek het,” het hy vertel.

En voor Orton sy oë kon uitvee, was dit verby. Al wat oorbly, is lewenslange herinneringe – en ‘n rits uitstekende foto’s.

Volg Johan op Instagram of Twitter by
@OrtonMediaPhoto.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button