Bergland staan hulle man teen die ander skole se atlete
Laerskool Bergland se atletiekspan het by die onlangse interlaer hulself goed van hulle taak gekwyt.

Die span het nagenoeg agt goue, nege silwer- en ses bronsmedaljes ingepalm en het ‘n skitterende vertoning gelewer.
Die snikhete dag het hulle nie teruggehou nie en hulle het die 68 items met gees aangedurf. Die skool se atletiekspan het in verskeie items presteer en die medaljetellings getuig hiervan.
In die o/11-seuns 100 m-naellope het Steyn Lamprecht die skool se vlag hoog laat waai. Hy het die tweede plek ingeneem teen
sterk atlete wat blitsvinnig op die baan gehardloop het.
Menzi Sheba het ook sy bekwaamheid tydens die o/12-seuns 75 m-hekkies gewys en eerste plek in ‘n taai naelloop gehaal. Junior Mkhabela, wat ook as die beste seunsatleet in die o/8-ouderdomsgroep aangewys is, het sy naam op die o/12-seunshekkies se 70 m gestempel. Menzi het ook ‘n bronsmedalje in die o/12-seunsverspring verower.

Mathys Stolz, wat as die junior victor ludorum aangewys is, het in verskeie items deelgeneem en ‘n goue medalje in die o/8-seuns 80 m-naelloop ingepalm.
Die span was oral op die veld te sien en Aiden van Heerden en Duncan Venter het onderskeidelik tweede en derde plek in die o/11-seuns 2 kg-gewigstoot ingeneem. Steyn Lamprecht en Junior Mkhabela het ook hul teenwoordigheid in die o/11-seuns 80 m-naelloop duidelik gemaak toe hulle onderskeidelik tweede en derde plek ingeneem het.
Fourie Milan het kragte gemeet teen streng kompetisie gedurende die o/12-seunsgewigstoot en het ‘n verdere bronsmedalje vir die span ingepalm.
Gedurende die o/11-seunshoogspring het Emile van Zyl en Juan Maritz onderskeidelik tweede en derde plek behaal.
By die dogters het Chenade Bothma met skitterende vertonings in die naellope uitgeblink. Sy het twee goue medaljes by die telling gevoeg toe sy as’t ware verby die ander mededingers gehardloop het. Die seunsaflosspan in die o/8-kategorie was ook blitsvinning en is met ‘n goue medalje vir ‘n uitmuntende vertoning beloon.
