Local sportSport

IN FOTO’S: 2020 Rooikat Gholfdag weer een vir die boeke

Hierdie dag word sedert 2013 gekenmerk deur kameraderie, pret, kwinkslae en baie lag.

‘n Hoogtepunt op die Laeveldse kalender is sonder twyfel die jaarlikse Rooikat Gholfdag – een van die gewildste byeenkomste in die streek en beslis een van die gesogstes.

Hierdie dag word sedert 2013 gekenmerk deur kameraderie, pret, kwinkslae en baie lag, en volgens een van die eienaars van dié bekende drankwinkel, Johan Breytenbach, is dit die allerbeste manier om verskaffers en klante vir hulle volgehoue ondersteuning te bedank. Tot talle se spyt word spelers slegs op uitnodiging op die baan toegelaat.

“Belangstellendes van sover as die Kaap doen navraag, maar ongelukkig word net ‘n beperkte aantal spelers op die baan toegelaat,” het Breytenbach gesê.

‘n Volbaan van 168 charismatiese, uitgelese spelers van wyd en syd het Donderdag gedoen wat hulle kon om die eksklusiewe geleentheid by Mbombela-gholfklub die beste nóg te maak.

Selfs bekendes soos Altus Theart, Francois Jacobs, Pieter Smith en Danie Rossouw het nie die geleentheid om (spreekwoordelik) skouers te skuur, laat verby gaan nie.

Volgens Breytenbach word daar seker gemaak dat alles glad verloop en dat almal op ‘n eg-Laeveldse manier bederf word.
Na ‘n lang dag op die gholfbaan het die vierbal van Jaco Bouwer, Scott Kemp, Gege Scholtz en Stefan van Wyk met 116 punte koning gekraai.

Verskeie van die land se voorste lafenisse is op die 19de putjie geniet waarna deelnemers vir watertanddisse, voorberei deur Kwanyoni Lodge en Alkmaar Farmstay, kon aansit. Pieter Koen, wat ook die seremoniemeester was, het behoorlik die voete laat jeuk.
“In ‘n bedryf wat soms uitdagend kan wees, is dit nou die een dag van die jaar waar alle geskille opsy geskuif kan word en ontspanning eerste prioriteit is.

“As elke deelnemer net vir een oomblik die jaar 2020 en sy uitdagings vergeet het, beskou ek die dag as ‘n sukses,” het Breytenbach gesê. Hy het bygevoeg dat hoewel hulle nog elke jaar leer en daar voortaan verbeteringe aangebring gaan moet word, hierdie dag beslis een vir die boeke was. ‘n Gedeelte van die opbrengs, R17 000, is aan Bossies Communtity Justice geskenk sodat die organisasie, wat slegs deur middel van skenkings die Laeveld en sy mense veilig hou, kan voortbestaan.

Talle items is ook die aand opgeveil, en die opbrengs van R53 000 is aan die Carli Breytenbach Trust gesekenk. Na Carli (Johan en Bessie se dogter) se ses-maande-inenting het haar lewe handomkeer verander toe haar liggaam ‘n toksiese reaksie getoon en sy epileptiese aanvalle begin kry. Volgens hom het sy tot 120 aanvalle per dag gekry en moes hulle vir vyf maande in die VSA gaan woon om haar lewe te red.

“Die trustfonds is gestig om haar mediese onkostes te dek,” het hy gesê.

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button