Interlaer ‘n welkome beloning vir atlete se geduld
Hoërskool Rob Ferreira, waar die byeenkoms aangebied is, het gewemel van Laerskool Witrivier, Laerskool Barberton, Laerskool Bergland, Laerskool Laeveld, Laerskool Lydenburg, Laerskool Nelspruit en Nelspruit Primary se kleure.
Laerskool Witrivier was vanjaar die trotse aanbieder van die 2022 Goldwagen Interlaer.
Groot afwagting en opgewondenheid het onder honderde atlete en ondersteuners geheers toe hulle uiteindelik weer bymekaar kon kom om ‘n dag se vriendskaplike atletiek en gees te geniet, ná al die inperkings.

Soos verwag was die byeenkoms voorwaar ‘n hoogtepunt op skoolkalenders, waartydens talent- en sportontwikkeling van hoogstaande gehalte te siene was. Hoërskool Rob Ferreira, waar die byeenkoms aangebied is, het gewemel van Laerskool Witrivier, Laerskool Barberton, Laerskool Bergland, Laerskool Laeveld, Laerskool Lydenburg, Laerskool Nelspruit en Nelspruit Primary se kleure.

Laerskool Witrivier het laas in 2014 die voorreg gehad om dié prestige-laerskolekampioenskap aan te bied, en dit was duidelik dat die onlangse inperkings die laerskole uitgehonger het vir die geleentheid om weer te kon meeding.
Die velde was vol belofte vir dit wat op dié skool se atlete en ondersteuners gewag het.

Dié belofte is met mening nagekom toe Witrivier vele prestasies opgelewer het, insluitend 17 goue medaljes, 13 silwer en vyf brons.
LEES OOK: Steve Hofmeyr sing dorpie aan die brand
Twee atlete, Janke Steenkamp en Julius Hattingh, het veral die skool se naam hoog gehou deur as beste middelafstandatlete van die dag aangewys te word.
Maar dit was die stryd tussen tweelingboeties Julius en Mardus wat die toeskouers op die punte van hulle stoele gehad het.

In beide die 1 500 m en 800 m, waarin dié twee langasems meegeding het, was dit ‘n titaniese stryd tot die bittere einde, maar Julius was net-net vinniger.
Dit was veral in die 1 500 m, met slegs 0,7 sek. wat die twee geskei het, wat die toeskouers op hulle voete gehad het.
Dit was egter ‘n heel ander storie met Janke Steenkamp, wat stof in haar teëstanders se oë in die 1 200 m en 800 m geskop het.

Ook het die seuns 9-aflosspan, asook die dogters 10, vir groot opwinding gesorg toe hulle dié items met ‘n haarbreedte gewen het. In die 1 200 m het Danicka Groenewald goud ingepalm toe sy die afstand in 04:12.6 voltooi het, en Ciska van der Merwe dieselfde afstand vir dogters 10 jaar, in 04:35.5.
Die negejarige Dean Delporte het ‘n goue medalje in die 60 m-naellope verower in ‘n blitsige tyd van 9,35 sek., met Hudson Strydom van Nellies wat in sy nek geblaas het.

LEES OOK: Mjejane begin ryke geskiedenis uitbeeld
In die seuns 11 het Mikhenso Nyakane die 100 m-naellope oortuigend in ‘n tyd van 13,84 sek. gewen, en die 80 m in 10,94. Alvin Boateng het die 80 m seuns 7 in 13,37 sek. kafgedraf, en die negejarige Zizikazi Dlamini het die 80 m in 12,05 sek. gewen, terwyl Dean in dieselfde ouderdomsgroep koning gekraai het in ‘n tyd van 11,98 sek.
Op die veld het Les-Lee Liebenberg ‘n afstand van 9,42 m in die gewigstoot vir seuns 13 behaal, en Miane Bosch ‘n hoogte van 1,2 m in die dogters 11 hoogspring.

“Dit was ‘n voorreg vir Laerskool Witrivier om die Goldwagen Interlaer aan te bied. Baie dankie vir elke atleet, onderwyser, beampte en ouer wat bygedra het tot die goeie gees waarin Saterdag kon plaasvind,” het Marianne Oosthuizen, die waarnemende hoof van Laerskool Witrivier, gesê.


Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

