Local sport

Hoërskool Nelspruit en Hoërskool Middelburg sê mekaar die stryd aan in Noordvaal Plaatafdelingfinaal

Die Rhinos het verlede Saterdag 'n 38-17-oorwinning oor Hoërskool Kemptonpark behaal.

Hoërskool Nelspruit se eerste rugbyspan kom Saterdag op hul tuisveld teen Hoërskool Middelburg in the Noordvaal Plaatafdelingfinaal te staan.

Die Rhinos het verlede Saterdag in die kwarteindronde, ook op hul tuisveld, ‘n puik 31-17-oorwinning oor Hoërskool Kemptonpark behaal, terwyl die Middies ‘n wegholoorwinning van 52-0 in die ander kwarteindronde teen Hoërskool Rustenburg behaal het.

Die Rhinos het Saterdag se wedstryd teen Kempies oorheers, veral met rotsvaste skrums en kanse wat goed benut is.

In die 13de minuut het die binnesenter, Ricardo Correira, Nelspuit se eerste drie aangeteken. Die Rhinos het ná ‘n skrum Kemptonpark se doellyn aangeval en Ricardo het deurgebreek. Danny van Staden het die drie verdoel.

Kemptonpark het ná ‘n hanteerfout van Nelspruit in besit van die bal gekom en die skrumskakel, Keegan Trollip, het sy span se eerste drie aangeteken.

Die Nellies-stut, Ryan Venter, het in die 35ste minuut ná ‘n 5 m-skrum oor die doellyn gebars en Danny het die doelskop deur die pale gestuur.
Net voor rustyd het Nelspruit ‘n weggeedrie aangeteken. Die bal het van ‘n skop van ‘n Kempies-speler se lyf af gebons en die slot, Leonard Bornman, het opgetel en deurgehardloop.

Die rustydtelling was 19-5 in NHS se guns.

Kemptonpark het van die afskop van die tweede helfte af aanvallende kookwaterrugby gespeel. Hul agterlyn het met die bal gehardloop.

Die kaptein en flank, Sarel Erasmus, het vroeg nadat spel hervat is, oorgeduik vir ‘n puik drie.

Nelspruit is deur die aanvallende spel van Kemptonpark verras, maar het hul wedstrydplan aangepas en gou weer beheer oor die wedstryd herwin.
Harde duikslae het nie net die Kemptonparkers gestuit nie, maar ook het hulle hanteerfoute begaan as gevolg van Nellies se vinnige tempo verdediging.

Danny het in die 42ste minuut die bal onderskep en met geen verdedigers in sig nie, vir ‘n drie deurgenael.
Hy was in die kol met die doelskop.

Leonard het kort daarna sy tweede drie aangeteken, en ‘n oorvleueling na goeie aanvallende spel het Nellies vyf punte besorg.

Francois Odendaal, NHS se 7-flank, het volgende gedruk nadat hy ‘n perfekte aangee van Leonard ontvang het. Danny het die twee punte bygevoeg.

Kemptonpark het net voor die eindfluitjie ‘n troosdrie aangeteken. Sarel het sy tweede een aangeteken.
Henco Potgieter het die drie verdoel.

NHS moes hard vir die oorwinning veg. Kempies het tot die einde met die bal gehardloop en net uitstekende verdediging het verhoed dat hulle meer punte aanteken.

Nellies het te veel strafskoppe afgestaan, maar Kemptonpark het verkies om kantlyn toe te skop eerder as om pale toe te mik.

Die wedstryd is in ware skoolseunrugbygees gespeel.

• Die finaal tussen Nelspruit en Hoërskool Middelburg belowe on ‘n baie gelyke stryd te wees.

NHS het op 9 Junie op hul tuisveld die Middies met 28-5 oorheers.

Middelburg se eerste span het sedertdien baie verbeter en sal NHS se onoorwonne seisoen graag in die finaal wil beëindig.

Die Rhinos se kaptein, Drikus Greeff, het Laevelder vertel dat hulle nie vir Middies onderskat nie.

“Ons neem alles in ag rondom die MHS-span. Ons uitgangspunt vir die week is om nog steeds op onsself te fokus en om die een-op-een- geveg op die veld te wen. Ons tema bly find a way,” het hy gesê.

Die Rhinos is onoorwonne in die Noordvaalkompetisie.

“Die geheim van hierdie seisoen was die broederskap tussen die spelers en die kultuur van die Rhinos-rugby,” het hy gesê.

Om vir die eerste span te speel, is ‘n eer vir die spelers.

“‘n Mens kan nie in woorde beskryf wat dit vir ons beteken om daardie wit trui oor jou kop te trek nie. Dit bly die grootste voorreg en dit is ‘n groot verantwoordelikheid wat ons as spelers het om die waardes en kultuur op die veld uit te leef,” het Drikus gesê.

Soos dit ‘n kaptein betaam, het Drikus vanjaar die Rhinos by die voortou gelei.

“Dit was en is ‘n groot voorreg om as kaptein vir die Rhinos te kan optree. Die groter prentjie beteken baie meer as die eie ek in ‘n spanomgewing.”

Hoërskool Nelspruit nooi alle oud-Nellies en rugbyliefhebbers om die Noordvaal Plaatafdelingfinale by te woon.

Hoërskool Nelspruit Rhinos
1. Duard Diechmann
2. Andreas Fouché
3. Ryan Venter
4. Bernard van Esch
5. Leonard Bornman
6. Christiaan Botha
7. Francois Odendaal
8. Braam Basson
9. Andeon Pringle
10. Danny van Staden
11. Thando Nkosi
12. Ricardo Correira
13. Drikus Greef (k.)
14. Brent de Villiers
15. Ethan van der Westhuizen.
Reserwes
16. Andeon Swart
17. Stefan Veldsman
18. Ruben Lorist
19. Juan Bezant
20. Heino Meiring
21. Aldo Muller
22. Peter Abram
23. Le Riche Aitchison.

Hoërskool Middelburg
1. Shaun Marx
2. Bongi Nkosi
3. Tebogo Nkosi
4. Jason Smit
5. Paul van der Merwe
6. Zulu van Niekerk
7. Fumani Chauke
8. Ben Jansen van Vuuren
9. Gift Keshwa
10. AJ Oberholzer
11. Luke Geldenhuys
12. Kwazi Khumalo
13. Grant de Jager (k.)
14. Simtha Maseko
15. Philasande Ntshapela.
Reserwes
16. Chad Hartley
17. Wentzel Tukker
18. Sphesiswe Mdhlulu
19. Tyrell Isaacs
20. Kaylin Maphuatho
21. Divan van der Westhuizen
22. Mnqobi Nkonde
23. Blessing Mamanishe.

Die program vir Saterdag se Noordvaal Plaatafdelingfinale by NHS:
• 09:00: o. 14 – Hoërskool Rustenburg vs Hoërskool Transvalia
• 10:20: o. 15 – Hoërskool Rustenburg vs Hoërskool Middelburg
• 11:30: o. 16 – Hoërskool Montana vs Hoërskool Nelspruit
• 13:00: 1stes – Hoërskool Nelspruit vs Hoërskool Middelburg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

markkinnear

Mark Kinnear is based in Mbombela and has 33 years’ experience in journalism, mainly on the sports beat. He has made his career in community media and has extreme passion for covering a wide variety of sports events.
Back to top button