11-jarige dogter van Lydenburg klop gesoute gholfers
Miné Watermeyer wen die Duckhook by die Bronkhorstspruit Gholfklub met sewe onder haar voorgee.
Toe Miné Watermeyer se pa, Godfried, sy dogter op vierjarige ouderdom wys hoe om ‘n gholfstok vas te hou, was die koeël deur die kerk.
Op Sondag 5 Februarie het sy aan die Duckhook Bronkhorstspruit Gholfdag deelgeneem. Dit was ook die eerste wedstryd van die Duckhook Limpoporeeks. Die Duckhook Gholfliga is Suid-Afrika se primêre sosiale gholfliga.
Miné het met 43 punte gewen, sewe onder haar voorgee.

Nie net was sy die enigste damesgholfer wat Sondag aan die liga deelgeneem het nie, maar geen gholfer van haar ouderdom het ooit voorheen ‘n Duckhook aangedurf nie.
Haar pa neem gereeld daaraan deel en het gedink dis goeie ondervinding vir haar om Sondag ook saam te speel. Dié gr. 6-leerder van Laerskool Lydenburg is saam met haar broer, Godfried (8), deel van die Laeveld Skolespan.
Miné blink in baie sportsoorte uit. Krieket is haar ander groot liefde. “Dis wonderlik dat Miné se sukses grense verskuif vir meisies wat aan gholf en krieket wil deelneem. Hierdie sportsoorte is nie net vir seuns of mans nie. Dankie aan Schalk Grobler wat haar by Lydenburg Gholfklub afrig. Ons hou duim vas dat sy later vanjaar in die Mpumalanga Junior Ope kan speel as deel van die Chase to Highlands Gate op Dullstroom,” het haar ma, Linelle, gesê.
Lees ook: Die geure het getrou toe Lydenburg se sjefs hul kombuistalent wys


