Blitzbok-gehalte rugby op Barberton
Die Laeveld en Hoëveld se eie sewesrugbyspanne het mekaar die stryd aangesê tydens Hoërskool Barberton se BUCO Makhonjwa-sewestoernooi.
Die Laeveld en Hoëveld se eie Blitzbok-rugbyspelers het netjies afgetrap, die bal met gemak van die een kant van die veld na die ander geswaai en ook geen brieke aangedraai tydens vanjaar se BUCO Makhonjwa-sewestoernooi op Barberton 1 en 2 September nie.
Die o. 15- en o. 16-sewesspanne van 18 skole het op die veld uitgedraf in vier rondomtaliewedstryde elk, waarna die uitspeelrondes plaasgevind het.
Die deelnemende skole het die bekende teenstanders van Rob Ferreira, Hoërskool Nelspruit (NHS), Curro Nelspruit, Bergvlam, Penryn, Uplands, Lowveld High en die gashere, Hoërskool Barberton ingesluit. Die skole wat van elders gekom het om ook hul staal teen dié Laevelders te wys, is Cambridge Academy, Patriot, Witbank High, Komatipoort, Steelcrest, Carolina, Highveld Comprehensive High School en MD Coovadia Gekombineerde Skool op Bethal.
LEES OOK: That’s a wrap for the Mpumalanga Show
Die pas vir die res van die toernooi is reeds Vrydag aangegee, met die spanne van Patriot, Witbank, Rob Ferreira, Cambridge en Barberton wat mekaar die stryd aangesê het.
Saterdag se reeks wedstryde het reeds om 07:40 afgeskop, en die laaste eindfluitjie is eers net so skuins voor 17:00 geblaas.
Nes daar geen tekort aan spanne en talent was nie, was daar ook nie ‘n tekort aan pryse en trofeë om te oorhandig nie.
Al die breekware is vir hierdie toernooi uitgehaal, van die teelepel tot die bord, en dan natuurlik die hoogste eer – die beker.
Op die o. 15-veld het Barberton en Steelcrest uitgespeel vir derde en vierde. Steelcrest het die wedstryd met 17 punte teenoor 14 beklink en daarmee die bord omhoog gelig.
LEES OOK: Sunshine Tour takes on White River, rookie wins first title
NHS het Rob Ferreira in die finaal aangepak. Dit was ‘n wegholoorwinning vir die Nelspruiters met 38-0 teen hul opponente van Witrivier. Hulle is nou die trotse titelhouers van die o. 15-BUCO Makhonjwa-sewestoernooi.
NHS se o. 17’s het teen die All Stars-span, bestaande uit spelers van al die deelnemende skole, te staan gekom om die derde en vierde plekke te beslis. Ook hier het die Nelspruiters geseëvier met slegs een punt in hul guns: 15-14.
Die Robbies se o. 17’s en Patriot het die hele dag hul beste voetjie voorgesit om hul plekke in die toernooi se finaal te bespreek. Beide spanne was ewe ywerig om as wenners uit die stryd te tree. Rob Ferreira het dit egter reggekry om hul opponente uit te oorlê met 26-22 om die beker te lig.
LEES OOK: Waardevolle gesprekke by Innibos Boekenaweek
Die dag kan geken word aan vele skitterende oomblikke op die veld, van die beste systappe wat hierdie seisoen gegee is, harde takels en natuurlik spoed sonder perke.
Dié naweek is die sewende keer gemerk dat die BUCO Makhonjwa-sewes aangebied is. Hoërskool Barberton se sportorganiseerder, Johan Theron, vertel dat die skool se personeel dus al soos ‘n goed geoliede masjien werk.
“Die personeel wat betrokke by die toernooi was, het hulle goed van hulle taak gekwyt. Die verrigtinge het seepglad verloop.
“Ons bied graag elke jaar die toernooi aan, aangesien daar ‘n behoefte in die Laeveld is om ‘n plaaslike sewestoernooi ook te hou. Die toernooi se datum word jaarliks op die Mpumalanga Rugbyunie se seweskalender vasgestel.”



