Pumas gereed vir Airlink Cup-aksie
Die Airlink Pumas skop om 13:00 op Saterdag 4 November hul veldtog teen hul gedugte teenstanders van die Noord-Kaap, die Windhoek Draught Griekwas, in Welkom af.
Die Airlink Pumas vat Vrydag, 3 November die pad na Welkom vir die begin van die Airlink Cup, geborg deur SPS.
“Hierdie toernooi gaan daaroor om vir die nuwe spelers in die span ’n bietjie speelkans te gee en ook om ons aan die gang te kry voor die groter kragmetings,” sê die hoofbreier, Jimmy Stonehouse.
Vier van die land se kleiner rugbyunies neem aan dié splinternuwe toernooi deel: die Windhoek Draught Griekwas, die NovaVit Griffons, die Luiperds en natuurlik die Pumas.
“Ons hoop om te kan uitpluis watter spelers in watter posisies inskakel, waar ons in terme van spanverband lê, in watter posisies ons tekortkominge het en waar ons swak punte is.
LEES OOK: Springboks’ visit to Mbombela in planning stages
“In 2024 Curriebeker speel al die groot unies voluit – die URC-reeks oorvleuel nie.”
Die Pumas skop hul Airlink Cup-veldtog teen hul gedugte teenstanders van Kimberley af. “Ons en die Griekwas is altyd in ’n baie gelykop wedstryd gewikkel. Dis ’n lekker derby,” kom dit van Stonehouse. “Hulle gaan vir ons kom met alles wat hulle het. Nie een van ons het ’n tuisveldvoordeel nie, so kom ons kyk maar hoe dit gaan. Ons sien uit daarna!
“Van die drie spanne dink ek is die Griekwas die enigstes wat regtig die toon sal aangee, maar ons moenie die ander onderskat nie.”
Die kragmeting vind Saterdag om 13:00 by die Touchdown Stadion in Welkom plaas, gevolg deur die wedstryd tussen die gasheer, die NovaVit Griffons en die Luiperds om 15:00.
Die Pumas-ondersteuners kan die wedstryd op die span se YouTube-kanaal stroom. Die skakel sal voor die tyd op Facebook gedeel word.
Stonehouse het op 2 November die span wat die Griekwas gaan aanvat, aangewys:
15 Andrew Kota
14 Lundi Msenge
13 Stephan Coetzee
12 Wian van Niekerk
11 Phiko Sobahle
10 Brandon Thomson
9 Giovan Snyman
8 Kwanda Dimaza
7 Francois Kleinhans
6 André Fouché
5 Shane Kirkwood (kaptein)
4 Malembe Mpofu
3 Ruan Swiegers
2 Llewellyn Claasen
1 Etienne Janeke.
16 PJ Jacobs
17 Njabulo Gumede
18 Simon Raw
19 Jeandré Leonard
20 Ruwald van der Merwe
21 Ross Braude
22 Clinton Swart
23 Tino Swanepoel.
