Om die Australiese rugbyspan te vergesel ’n hoogtepunt in Laeveld-legende Willem du Preez se loopbaan
Du Preez het 10 dae saam met die Wallabies spandeer toe hulle vir die toetswedstryd teen die Springbokke voorberei het.
’n Bekende in Laeveld-rugbykringe, Willem du Preez (62), is onlangs as die begeleier vir die Austaliese rugbyspan aangestel terwyl hulle in Suid-Afrika vir die Castle Rugbykampioenskap-wedstyd teen die Springbokke was.
Du Preez het 10 dae, van 30 Junie tot 9 Julie, met die Wallabies deurgebring, saam met hulle in hul hotel gebly en oral saam met hulle beweeg.
Hy is al van die vroeë 1970’s, toe hy laerskoolrugby begin speel het, by rugby in die Laeveld betrokke. Dié speler het later ’n keurder, afrigter en spanbestuurder geword. Du Preez het in 2021 van Lydenburg na Centurion toe verhuis.
“Omdat die toetswedstryd op Loftus Versfeld sou plaasvind, is die Bulle se skakelbeampte gevra om te help, en daardie eer het op my geval. Ek is gevra of ek bereid sou wees om saam met Australië vir die 10 dae in dieselfde hotel in te boek. My antwoord was dadelik ja!” het Du Preez vertel.
“Die 10 dae met hulle was wonderlik, en ’n belewenis. Almal kan sê wat hulle wil van die Aussies, maar hulle is ’n klomp nice ouens. Van Eddie Jones tot die spelers, almal vriendelik, en hulle het my met respek behandel. Ek kon regtig van dag een goed by hulle inskakel.
“Ons werk was om te sorg dat alles in plek en betyds vir die oefening by die veld en by die gym was. Baie gery en ook gesweet, maar alles vir ons geliefde sport, rugby – van vroegoggende tot laataand,” het Du Preez gesê.
Du Preez is ’n rugbyman deur en deur. “Ek was sewe jaar skakelbeampte vir die Pumas in Nelspruit, van 2012 to 2019. In dié tydperk het ek verskriklik baie rugbyvriende ontmoet. Soos ons altyd sê: ‘Rugbyvriende is vir altyd!’

“Ek was ook bevoorreg om by ’n vorige geleentheid die skakelbeampte vir Samoa met die eerste toets in Mbombela te wees, asook vir Wallis in 2014. Dit was ’n belewenis om die hele week saam met hulle by Ingwenyama deur te bring.
“Ek het ondertussen van Nelspruit na Centurion verhuis. In Desember 2021 het die Bulle my gekontak om te hoor of ek sou belangstel om hulle as skakelbeampte te help. Dit is mos enige Bul-ondersteuner se droom. My antwoord aan hulle was: ‘Jy vra my nie, jy sê my hoe laat en wanneer ek daar moet wees!’”
Du Preez was vir meer as 50 jaar ’n dienaar vir die Laeveld se rugby. “Ek was my hele lewe in die Laeveld by die rugby betrokke. Begin speel vir Laerskool Lydenburg o. 9-span. Hoërskool tot gr. 11 flank gespeel, waar my afrigter my in matriek na haker skuif. Ek het sommer geweet dit is my posisie daai. Hoërskool Lydenburg se laaste wen teen Hoërskool Nelspruit was in 1978, en ek was bevoorreg om in daai span te speel.
“Direk ná skool het ek op klubvlak begin speel, en was ek bevoorreg om direk in die eerste span by Lydenburg se klub te kon speel. Selfs tydens my weermagtydperk van twee jaar het ek heeltyd rugby gespeel. Ook vir Laeveld o. 20B- en A-span gespeel.
“Oom Attie Louw (RIV), ons legende by Laeveld, het my ná my speeljare op Laeveld begin betrek, eers as o. 23-keurder en -afrigter, en later seniorkeurder, en nóg later saam met Arrie Myburg (nóg ’n legende) as spanbestuurder gewerk.
“Vir Lydenburg se klub het ek 12 jaar ernstig rugby gespeel. Ná my nekoperasie in 1990 was ek weer 1991 op die veld vir die tweede span, maar as skrumskakel. Lekkerste rugby vir Lydenburg gespeel.”
Du Preez het al diep spore in plaaslike en Suid-Afrikaanse rugby getrap. Op 62 het hy nog baie om vir rugby te gee. Hy is ’n Laeveld-legende en sy rugbygees is nog so sterk soos altyd.

