IN FOTO’S: Vuurwarm rugby- en netbalaksie op Witrivier se sportvelde
Die laerskoolspelers het hulle staal op die rugbyvelde en netbalbane gewys.
Die jaarlikse Fathers Ground sewesrugbytoernooi is op 1 en 2 November weer by Laerskool Witrivier aangebied.
Die toernooi, wat in 2015 vir die eerste keer die lig gesien het, het nou vir die negende keer plaasgevind. Sewesrugbyspelers van 10 skole het op Laerskool Witrivier se rugbyvelde gespeel. Twee-en-dertig o. 10-, o. 11- en o. 12-spanne van onderskeidelik Witrivier, Arborpark, Curro Secunda, Komatipoort, Numbi, Nelspruit, Laerskool Secunda, Klipfontein, Steelpoort en Laeveld Rugbyakademie het vir twee dae in 84 wedstryde op die rugbyveld kragte gemeet.
Afrigters en spanbestuurders is die Vrydagaand na ’n verwelkomingsete genooi. Elkeen het ook ’n klein geskenk ontvang om die toernooi te gedenk.
“Spesiale dank aan Wouter Verster wat die aankondiger en tydhouer was vir die twee dae. Ook het Adé Adendorff vir ons die skeidsregters hanteer en die aanstellings gedoen. Dit is baie harde werk en ons waardeer dit baie. Die i-Secure-noodhulppersoneel met al die pleisters, water en toorkragte om almal weer op die been te kry was uitstekend,” het Fathers Ground se Iaan Jacob gesê.
Die wenners van die verskillende afdelings is met goue, silwer en brons medaljes in elke ouderdom beloon, asook die man van die wedstryd vir die beste spelers.
In die o. 12-ouderdomsgroep het Laerskool Arborpark die goue medalje gewen. Laerskool Klipfontein en die Laeveld Rugbyakademie het onderskeidelik silwer en brons gewen.
LEES OOK: IN PHOTOS: Thamsanqa Mthembu wins Kaapsehoop Marathon for second consecutive year
Die o. 11’s se gouemedaljewenners was Laerskool Nelspruit. Laerskool Witrivier was die silwermedaljewenners en Laerskool Klipfontein die bronsmedaljewenners.
Die o. 10’s se gouemedaljewenners was Laerskool Nelspruit A. Laerskool Witrivier A het die silwer medalje gewen en Laerskool Nelspruit 10B die brons medalje.
“Die Fathers Ground is ’n organisasie wat bestaan uit ’n groep pa’s van Laerskool Witrivier. Hulle poog om deur fondsinsamelingsfunksies ekstra fondse te genereer om projekte te voltooi en sodoende die skoolfasiliteite te verbeter. Fathers Ground bedank ook elke lid wat in watter wyse ook al gehelp het. Ons sien uit na volgende jaar om die toernooi nog beter en groter te maak.”

Terselfdetyd, net oorkant Danie Joubertstraat, het Laerskool Witrivier sy tweede Fast 5 Netbaltoernooi vir dogters o. 11, o. 12 en o. 13 aangebied.
Die toernooi het op 1 en 2 November plaasgevind en het die aandag van 260 talentvolle jong dogters getrek wat aan 80 wedstryde deelgeneem het. Hierdie gebeurtenis het nie net die deelnemers se passie vir die sport aangewakker nie, maar het ook ’n nuwe standaard vir netbal in die Laeveld gestel.
Die o. 11’s het die nuwe uitdaging geniet, en Laerskool Nelspruit het met ’n goue medalje weggestap. Laerskool Witrivier het die silwer medalje gevat en Brackenhurst Primary A die brons.
Die o. 12-kategorie het die uitstekende gehalte van netbal in die Laeveld bewys. Laerskool Witrivier het met die goue medalje weggestap. Hulle het beïndruk met hul vaardighede en toewyding. Laerskool
Nelspruit was die silwermedaljewenners, terwyl Laerskool Secunda met die brons weggestap het.
In die o. 13-kategorie het die Wildcats die kompetisie oorheers en die goue medalje gewen, Brackenhurst Primary die silwer medalje en Laerskool Witrivier die brons. Hierdie jong netbalspelers het met hul indrukwekkende spel en geesdrif bewys dat hulle die toekoms van die sport is.
Die toernooi het nie net ’n platform gebied vir mededingende netbal nie, maar het ook ’n gevoel van samewerking en vriendskap tussen die skole gekweek.
Die Laerskool Witrivier Fast 5 Netbaltoernooi het nie net die deelnemende skole verenig nie, maar dit het ook ’n blywende indruk op die netbalgemeenskap in die Laeveld gemaak. Hierdie suksesvolle gebeurtenis gaan beslis as ’n baken vir toekomstige netbaltoernooie in die streek dien en gaan as inspirasie dien vir die dogters wat daaraan deelgeneem het.




























































































