Hoërskool Nelspruit se dogterstennisspan hou trofee vir 4de jaar
NHS se dogterspan het onlangs weer eens die Groot 5-tennistoernooi gewen.
Cronje, De Waal en Skhosana Inc. se Groot 5-tennistoernooi het van 12 tot 15 Februarie in die Laeveld plaasgevind.
Hierdie toernooi word jaarliks aangebied en is ’n hoogtepunt op die tenniskalender.
Verlede week s’n het met slegte nuus begin – Paarl Roos se span was op pad Laeveld toe in ’n motorongeluk betrokke. Gelukkig was daar geen ernstige beserings nie, maar die span moes steeds onttrek.
Dag een het sonder hulle afgeskop, en die organiseerders het die program vinnig aangepas. Na ’n heerlike Laeveld-ontbyt, verwelkoming en spanfoto’s het die toernooi begin en het die spelers mekaar op die tennisbane die stryd aangesê.
LEES OOK: Laerskool Nelspruit kraai weer koning by Laeveld Interlaer
Wat hierdie toernooi spesiaal maak is die vriendskappe wat gesmee word, die kameraadskap tussen die spelers en natuurlik almal se voorliefde vir tennis.
Hoërskool Nelspruit is uiters trots op sy dogterspan wat vir die vierde agtereenvolgende jaar as kampioene gekroon is. Die seunspan het ’n derde plek behaal – ’n merkbare verbetering op verlede jaar se sewende plek.
Uitslae
• Dogters:
1. Hoërskool Nelspruit
2. Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria
3. Hoërskool Stellenbosch
4. Hoërskool Menlopark
5. La Rochelle Girls’ High en Hoërskool Garsfontein
7. Uitnodigingspan
8. Hoërskool Waterkloof
9. Hoërskool Middelburg
10. Midstream College.
• Seuns:
1. Hoërskool Menlopark
2. Hoër Boland Landbouskool
3. Hoërskool Nelspruit
4. Hoërskool Wilgerivier
5. Hoërskool Garsfontein
6. Midstream College
7. Uitnodigingspan
8. Hoërskool Stellenbosch
9. Hoërskool Waterkloof.



