Sport

Laerskool Nelspruit kraai weer koning by Laeveld Interlaer

Drie rekords is dié dag verbeter en een is geëwenaar - drie hiervan deur Nellies.

Laerskool Nelspruit het na ‘n dag van top atletiekkompetisie by vanjaar se McGee Ford Laeveld Interlaer op 15 Februarie op Lydenburg weer ‘n keer die meeste medaljes huis toe geneem.

Dié jaar se Interlaer is deur Laerskool Lydenburg op Hoërskool Lydenburg se velde aangebied, wat in ‘n puik toestand was en beslis bygedra het tot goeie tye om die baan. Alhoewel dit ‘n bietjie bewolk en grys was, het die gees en opwindenheid vroegoggend al deur die skole se optogte geskyn.
Die sewe deelnemende skole het gesorg hulle teenwoordigheid word deur almal gevoel. Laerskool Barberton het vanjaar die verste gereis om deel te neem. Nelspruit Primary, Nelspruit, Witrivier, Laeveld en Bergland het ook die reis na Lydenburg onderneem om weer eens aan ‘n fantastiese dag se atletiek deel te neem.

ALSO READ: IN FOTO’S: ‘n Tawwe maar begeesterde 2025 Laeveld Interlaer

Met die bewolkte weer vir die grootste gedeelte van die dag kon die atlete redelike koel toestande geniet. Altesaam is drie rekords verbeter, en een is geëwenaar.
Die eerste rekord wat in die slag gebly het was in die o. 12-dogters se hoogspring, waar Laerskool Nelspruit se Aimee Dippenaar 1,44 m gespring het. Sy het die vorige rekord met 1 cm verbeter. Volgende was Alizé Engelbrecht, ook van Nelspruit, wat die bestaande rekord in die o. 12-dogters se 75 m-hekkies met ‘n blitsvinnige tyd van 12,44 sek. geëwenaar het.

Vanessa Badenhorst het in die o. 10- dogters se gewigstootitem die ou rekord van 8,12 m met ‘n uitstekende 1,32 m verbeter. Haar nuwe rekord van 9,42 m sal beslis vir lank nog staande bly.

Die laaste nuwe rekord vir die dag was deur Nelspruit Primary se o. 9-seuns se 4×80 m-aflosspan gestel, wat ‘n briljante tyd van 47,82 sek. gehardloop het. Die vorige rekord was ook Primary s’n, 48,28 sek. in 2017.

ALSO READ:

Alhoewel die seunskompetisie redelik taai was, het Nelspruit se dogtersatlete omtrent laat spaander. Dit het gehelp dat die Nellies die algehele kroon van die dag oortuigend huis toe kon neem, met ‘n totaal van 89 medaljes. Lydenburg was tweede, gevolg deur Witrivier in derde. Lees gerus die medaljetabel om te sien hoe die ander skole gevaar het.

Riningo Twala van Witrivier was die junior victor ludorum en Skye Moyana van Barberton die junior victrix ludorum. Witrivier se CJ Makhabela was die senior victor ludorum en Nelspruit se Alizé Engelbrecht die senior victrix ludorum. Nelspruit het ook ses van die verdere 11 toekennings gewen.
Volgende jaar se Laeveld Interlaer word by Laerskool Bergland aangebied.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button