Local sport

Kambaku Gholfklub nogmaals tops in SA

Kambaku is slegs een van ses nege-puitjie bane in die Laeveld wat onder die top-50 lê.

Kambaku Gholfklub is vir die tweede opeenvolgende jaar deur Golf Digest South Africa as die beste nege-putjie gholfbaan in Suid-Afrika aangewys.

Die 2026-ranglys is in die Januarie/Februarie-uitgawe van die tydskrif bekend gemaak en is saamgestel deur die bekende gholfjoernalis Stuart McLean, wat al meer as twee dekades gholfbane in die land rangskik.

Ses jaar gelede het hy ook sy eie webtuiste, SA Top 100 Courses, begin, waar hy jaarliks die ranglys van 18-putjie bane publiseer.

Vir diegene wat nie die verskil tussen nege- en 18-putjie bane ken nie – dit lê reeds in die naam.

‘n Nege-putjie baan bestaan uit nege unieke putjies, maar het 18 bowwe, wat beteken dat spelers steeds 18 gate kan speel.

Op ‘n 18-putjie baan daarenteen is daar 18 unieke putjies en 18 bowwe.

Die samevloeiing van die Krokodil- en Nkomazi-riviere met Kambaku in die agtergrond. > Foto: Charlotte Maritz
Die samevloeiing van die Krokodil- en Nkomazi-riviere met Kambaku in die agtergrond. > Foto: Charlotte Maritz

McLean merk op dat tradisionele gholfers steeds 18-putjie bane verkies, maar dat nege-putjie gholf toenemend gewild raak.

Vanjaar is dit die derde keer wat McLean die nege-putjie ranglys in Golf Digest South Africa publiseer, en die eerste keer dat dit ‘n top-50 lys is, eerder as die top-25 soos voorheen.

Ten spyte van strawwe kompetisie het McLean Kambaku weer eens as die nommer een nege-putjie baan in Suid-Afrika aangewys – ‘n prestasie waaroor die personeel baie trots is.

“Ek is ongelooflik trots en dankbaar dat ons weer as nommer een aangewys is,” sê Kambaku-bestuurder, Natasha Broodryk.

“Hierdie prestasie beteken vir my meer as net ‘n titel, dit is ‘n erkenning van elke dag se harde werk, spanpoging en die liefde wat ons almal in ons werk sit.”

Kambaku Gholfklub. > Foto: Charlotte Maritz
Kambaku Gholfklub. > Foto: Charlotte Maritz

Broodryk sê die prestasie motiveer haar en die span. “Elke oggend sien ek hoe my kollegas op die baan, in die proshop en in die restaurant hulle beste gee. Dit inspireer my om ook elke dag met ‘n positiewe houding op te daag, met trots in my hart. Ons werk saam, help mekaar en dra almal by tot die ervaring wat gaste en lede hier kry.”

Sy het ook haar dankbaarheid uitgespreek dat hul harde werk raakgesien word.

“Om deel te wees van ‘n span wat soos ‘n familie voel, is vir my ‘n groot voorreg. Ons ondersteun en bou mekaar op, en dit wys in die resultate wat ons bereik. Hierdie erkenning motiveer my om nog harder te werk en nog meer trots te wees op wat ons hier doen. Ek sien uit na die pad vorentoe, met dankbaarheid, trots en waardering vir elkeen in die Kambaku-span.”

Een van Kambaku Gholfklub se kenmerkende vlae. > Foto: Charlotte Maritz
Een van Kambaku Gholfklub se kenmerkende vlae. > Foto: Charlotte Maritz

Kambaku lê op die samevloeiing van die Krokodil- en Nkomazi-riviere, met die Nasionale Krugerwildtuin net oorkant die rivier en Mosambiek in die verte.

Met wild wat die baan hul tuiste noem en die pragtige uitsigte oor die terrein, gekombineer met die uitstekende toestand van die baan, is dit maklik om te sien waarom Kambaku nommer een is.

Malelane Gholfklub is ook onder McLean se top-50 gelys, in die 14de plek.

Alhoewel die baan vanjaar twee plekke afgestaan het ondanks onlangse harde werk en opgraderings, word daar verwag dat Malelane volgende jaar waarskynlik weer hoër op die ranglys sal verskyn.

Verder verskyn mede Laeveld-bane Kruger Park Lodge (13de), Skukuza Gholfklub (32ste) en Pilgrim’s Rest Gholfklub (34ste) en Lydenburg Gholfklub (50ste) ook onder die top-50.

Kambaku Gholfklub se klubhuis. > Foto: Charlotte Maritz
Kambaku Gholfklub se klubhuis. > Foto: Charlotte Maritz

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Blake Linder

Blake Linder is based in Mbombela and is a Senior Journalist at the Lowvelder. He carries with him nearly a decade's worth of experience in media. He has previously worked as News Editor, but now primarily focuses on Sport News, having previously won awards for both his sports writing and photography.
Back to top button