Vlammies se spanne deur na die halfeind
Twee van die skool se rugbyspanne het Saterdag na die halfeind van die Beeld-trofee deurgedring.

Mbombela het ‘n dubbeldoor-rugbydag Saterdag beleef met plaaslike hoërskole wat op hul tuisvelde vir plekke in die Beeld-trofee se halfeindrondes uitgespeel het. Onder die mediumskole het twee van Hoërskool Bergvlam se spanne deurgedring.
Die o/16’s het met 14-3 teen Hoërskool Voortrekker van Boksburg gewen, terwyl die o/14-span vir Belvedere Skool van Benoni ‘n loesing van 22-0 gegee het. Bergvlam se eerste span was egter nie opgewasse teen Hoërskool Parys se aanval nie en het met 24-16 verloor.
Dié skool was eerste op die telbord met ‘n suksesvolle strafskop voor Bergvlam ook twee oor gekry het. ‘n Drie vir Parys het die telling egter teen rustyd op 8-6 in die besoekers se guns laat staan.
Die Vrystaters het met hul tweede drie die voortou in die tweede helfte geneem en dit nie weer afgestaan nie. Bergvlam het egter teruggeveg. Herman van Helsdinger en Tyron-Lee George het elk ‘n drie aangeteken. Die laaste een was enkele minute voor die eindfluitjie geblaas het, maar was nie genoeg om die wedstryd te wen nie.
Eerskomende naweek speel die o/16- en o/14-spanne in die halfeind teen Queens High School van Johannesburg. Bergvlam sal weereens gasheer speel om hopelik na die finale te kan deurdring.
Sien nog foto’s hier.
