School sportSport

Jong omroepers positief oor nuwe program

Vier leerders van Hoërskool Barberton (BHS) het verlede week by Radio Laeveld se ateljee besoek afgelê.

Vier leerders van Hoërskool Barberton (BHS) het verlede week by Radio Laeveld se ateljee besoek afgelê.

Hier moes hulle onder andere karakters inneem, vrae wat op algemene kennis gebaseer is, beantwoord en nog ‘n magdom take waarmee die man op straat nie aldag te doen kry nie uitvoer.

Met hul terugkeer na BHS, het hulle van oor tot oor geglimlag, want binne die volgende paar weke gaan hulle vir ‘n uur lank elke week hul eie program op die lug hê.

Wade du Plessis (gr. 10), Chanelle Olivier, Xandri Coetzee en Henryhette Bronkhorst (gr. 12), is dit eens dat hierdie geleentheid wat hom nou voordoen geensins te versmaai is nie.

Chanelle meen haar drome kan dalk ‘n werklikheid word en sy sien baie uit daarna om saam met die ander drie te werk sodat hulle Barberton met die res van die Laeveld vanuit die oogpunt van ‘n tiener kan deel.

Volgens Henryhette is dit moontlik net die ding wat ‘n positiewe verskil in ander tieners se lewens kan maak. “Dit kan ook soveel ander deure in die media- en dramabedryf oopmaak,” het sy gesê.

“Dit gaan harde werk verg en ons sal deeglike voorbereiding moet doen. Dit is reeds ‘n groot eer om met ‘n gehoor oor ‘n radiostasie te kommunikeer, maar om te dink dat dit moontlik tot iets groter kan lei, maak dit soveel meer opwindend,” sê Xandri.

Soos die ander sien sy baie na hul eerste opname uit en hoop dat ‘n groot hoeveelheid luisteraars van die gemeenskap tydens die uitsending sal inskakel.

Die jongste van die viermanskap, asook die enigste haan onder die henne, Wade, is ook die enigste Engelssprekende en glo dat dit belangrik is om in beide jou eerste en addisionele taal goed te kan kommunikeer. “Nie net is dit ‘n voorreg om hieraan deel te hê nie, maar vir my wat Engels as eerste taal neem, gaan dit beslis ‘n leerkurwe wees.”

Hierdie slimmighede is tydens ‘n fotosessie by die gronde van BHS verlede week kwytgeraak. Dit is ‘n eerste vir Barberton en die koerant wens dié span alles van die beste toe.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button