Voorbereidings vir die Cravenweek gaan volstoom voort
Organiseerders werk hard om seker te maak dat die Craven Week, wat einde Junie 2014 plaasvind, glad sal verloop.
Alhoewel die Coca-Cola Cravenweek vir laerskole eers oor agt maande plaasvind, is die meeste van die reëlings so te sê in plek. Die jeugweek vind van 28 Junie tot 3 Julie by Hoërskool Rob Ferreira se sportgronde plaas.
Die tweede beplanningsvergadering het Vrydag by Laerskool Nelspruit se lapa plaasgevind. Die toernooidirekteur, Danie Willemse voel positief oor die verloop van sake. “Alles is in plek. Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU), het dit amptelik op skrif gestel: Mpumalanga sal die o/13-toernooi aanbied. Ons is geweldig trots daarop dat so ‘n gesoute toernooi na die platteland toe kom.”
Coca-Cola en SARU borg 90 persent van die toernooi, dus is daar nog ‘n tekort van R300 000 wat deur plaaslike borge aangevul moet word.
Die bemarking- en mediabestuurder, Johan Orton het reeds die toernooi se Twitter- en Facebook-groepe gestig en die bekende sportfotograaf, Deaan Viviers, sal die week langs die veld met sy kamera gereed staan.
Die 18 spanne sal in Witrivier tuisgaan en 80 persent van die funksies is reeds gefinaliseer. Die Woensdag sal van die spanne aan ‘n gholfdag deelneem of ‘n dag in die Kruger Nasionale Park deurbring.
Enigiemand wat belangstel om hierdie sportgebeurtenis te borg, kan Johan Orton by 084-401-4739 skakel.
