Witrivier haal uit en wys tydens Interlaer
Leerlinge van Laerskool Witrivier het die skool se naam hoog gehou op die pawiljoen en veld tydens die interlaer-atletiekbyeenkoms.
Die jaarlikse interlaer was weer alles wat van dié aansienlike atletiekbyeenkoms verwag word. Dis op 20 Februarie by Hoërskool Bergvlam se velde deur Nelspruit Primary aangebied.
Buiten Laerskool Witrivier het Barberton, Laeveld, Lydenburg, Bergland, Laerskool Nelspruit en Nelspruit Primary ook aan die vriendskaplike byeenkoms deelgeneem. En hoewel die beste singspan nie aangewys is nie, het elke skool hulself oortref om hul atlete te ondersteun en te wys watter gees in hul steek.
Primary is wyd geloof vir die manier waarop hulle die dag aangebied het. Elke deelnemer, ondersteuner, ouer en onderwyser het ook wonderlike gees getoon om van die byeenkoms ‘n sukses te maak. Sportmangees was voorwaar op dié dag die wenner.
Witrivier se Markus Klopper was die skool se beste atleet van die dag, nadat hy ‘n hoogte van 1,53 meter gespring het in die seuns o/13 hoogspring. Kayla de Villiers was ‘n kortkoppie agter hom op die Absa-punteleer nadat sy 1,26 meter gespring het in die hoogspring vir dogters o/11.
Sien foto’s van die byeenkoms hier.
