Mozzieweek die grootste een nog
Hoërskool Nelspruit se Mozzie-krieketweek spog met 12 deelnemers.
Hoërskool Nelspruit (NHS) se jaarlikse Mozzie-krieketweek is vanjaar vir die vyfde keer in die laaste week van die winterskoolvakansie aangebied. Waar hulle aanvanklik slegs vier deelnemers gehad het, het 12 skole vanjaar deelgeneem.
Ander Laeveldse skole was Uplands en Penryn College, terwyl hoërskole Centurion, Garsfontein, Wonderboom, Pietersburg, Voortrekker van Bethlehem, Potchefstroom Gimnasium, Potchefstroom Volkskool, Vereeniging Gimnasium, sowel as Tuks Akademie se o/19-span afgereis het om saam te kom speel.
Die spanne het die toernooi met T20-wedstryde afgeskop. NHS het Wonderboom met vier paaltjies gewen. Uplands het met 14 lopies teen Centurion verloor, en Penryn met 187 lopies teen Garsfontein.

In die tweede dag se 50-beurtwedstryde kon NHS vir Centurion met drie paaltjies wen. Jon Hinrichsen het vier paaltjies vir 29 lopies in agt beurte geneem, terwyl Dean van der Merwe die knoop vir die skool deurgehaak het met 60 lopies nie uit nie. Uplands het met vyf paaltjies teen Potchefstroom Volkskool en Penryn met 254 lopies teen Potchefstroom Gimnasium verloor.

Op die derde dag is 45-beurtwedstryde gespeel. NHS het met drie paaltjies teen Garsfontein verloor. Bernard Vorster kon 102 lopies nie uit nie aanteken. Uplands het met agt paaltjies teen Tuks o/19-akademie verloor.

Penryn het weer met vyf paaltjies teen Hoërskool Voortrekker gewen. Laasgenoemde kon in totaal 181 lopies in vergelyking met Penryn se
185/5 aanteken. Hadrick Coertze kon 118 nie uit nie aanteken, terwyl Shaun Bellis met drie paaltjies vir 25 lopies met die bal uitgeblink het.
Daar was ook ‘n Super Over-kompetisie waartydens die spanne een beurt met drie kolwers speel. Dit is deur Potchefstroom Gimnasium gewen.

Op die vierdie dag het spanne wedstryde gespeel wat tussen 20, 30, 40 en 50 beurte gewissel het. NHS het met agt paaltjies teen Potchefstroom Gimnasium verloor. Divan Jacobs kon 56 lopies aanteken. Uplands het met 22 lopies teen Pietersburg verloor, en Penryn het met 20 lopies teen Vereeniging Gimnasium verloor.
