Slimkoppe se spel kook in Kaapstad
Die Kaap was warm, die saal warmer en die skaakspelers van Ehlanzeni se spel op sy warmste.

Altesaam nege spanne het die provinsie tydens die Suid-Afrikaanse Junior Skaakkampioenskappe by die Universiteit van Kaapstad van 3 tot 7 Januarie verteenwoordig.
Ehlanzeni het vier bordpryse verower, twee spelers het bordpryse gedeel en drie van die spanne het in die top drie plekke geëindig. “Nie net het ons smaraggroen uniforms die saal opgehelder nie, maar ons spelers, bestuurders en afrigters het kop en skouers bo die 2 158 spelers uitgestaan. Dié wat met pryse weggestap het, is net ‘n bewys van die harde werk wat ons ingesit het ter voorbereiding vir die jaarlikse skaakskouspel. Baie dankie en geluk aan ons afrigters Marco Craig, Cobus van Heerden,
Ruphas Sibanyoni, Kalvin Mattheus, Eddie Bhila, Phumi Maluleke, en Dumisa Nkosi,” het die sekretaris van Ehlanzeni Skaak, Karen Taljaard gesê.
Arjun Sopranam Prabha (o/8) het al sewe sy potte gewen en Laerskool Laeveld se Joshua van Heerden was in vyf uit sy sewe wedstryde baas. Alex Smit van Laerskool Lydenburg het ook nie een wedstryd verloor nie en Alexander Maartens van Hoërskool Sybrand van Niekerk het net een van sy potspelle verloor.
Curro Nelspruit se Zuan Taljaard (o/12) het 5/7 gewen en Theo Mogale 5,5/7. Hulle was die twee spelers wat die bordprys met spelers gedeel het.
“Dit is nie maklik om met ‘n groep van 80 spelers te toer nie, maar die bestuurders het dit met soveel liefde gedoen. Die ouers en onderwysers wat saam met ons getoer het, moet hulself ook ‘n klop op die skouer gee. Een van ons o/12-spelers se wedstryd het drie uur en 45 minute geduur en julle was daar om hom aan te moedig.”
Arjun, Dicken Nkosi (o/10A), Zuan (o/12A), Pulusho Moripa (o/12B), Theo (o/14A), Juandre Geringer (o/14B), Darrienne Klapprott (o/14G), Alexander (o/16A) en Famande Mahlaola (o/18A) is as die beste presteerder in hulle onderskeie ouderdomsgroepe aangewys. “Julle het bitter hard gewerk en julle verdien die prys deur en deur.”
Die volgende spanne het in die top drie geëindig:
• O/8A
• O/10A
• O/16A
Die eerste skaaktoernooi van die jaar vind op 20 Februarie plaas waar Komati Akademie gasheer vir die toernooi sal speel.






















