School sportSport

NHS se swemmers spog met wentrofee

Die Ehlanzeni Interhoër-swemtrofee het vanjaar 'n nuwe staanplek.

Dié spogtrofee is vanjaar in Hoërskool Nelspruit (NHS) se voorportaal nadat hulle die 2015-kampioene, Uplands College met 106 punte geklop en ‘n totaal van 71 medaljes ingepalm het.

Hoërskool Rob Ferreira het vanjaar se swemskouspel aangebied en het as gasheerskool in die algehele vyfde plek met 411 punte geëindig.

Penryn College was in die derde plek met 580, Curro Nelspruit vierde (466) met Hoërskole Bergvlam (196) en Barberton (78) wat onderskeidelik om die sesde en sewende plekke meegeding het.

NHS se Jetro Piso is as junior victor ludorum aangewys, terwyl Skye Munro (junior) en Liza-Mari Drummond (senior) die victrix-trofeë ontvang het. Uplands se Matthew Ives is as die senior victor gekroon.

Die 15-jarige Piso het begin met ‘n goud in die 200m-individuelewisselslag (IM) met ‘n tyd van 2:24,69.

Daarna het hy ‘n verdere drie eerste plekke in die 100m-vryslag (56,24), 50m-vryslag (26,35) en 50m-vlinder (28,37) om sy nek gehang.

Die 50m-vryslag Suid-Afrikaanse Skolekampioen, Drummond het vanselfsprekend dié item in ‘n wentyd van 27,95 geswem. Sy is ook ‘n verdere vier keer na die podium geroep, waar sy goud in die 200m-IM, 100m-vryslag, 50m-vlinderslag en 100m-borsslag gekry het.

Munro het vier goue medaljes in die 100m-vlinderslag, 50m-vlinder, 50m-vry en 100m-rugslag en een silwer in haar eerste item, die 200m-IM verower. Die 100m-vlinder was ‘n ope-item waar sy teen dogters tussen 14 en 17 jaar oud meegeding het.

Die seuns 100m-vlinderslag-item was ‘n naelbyter met Ives wat dit in 1:02,16 gewen het, met Jacey Bekker in die tweede plek met 1:02,53. Die Uplands-swemmer het ook gemaklik die 200m-IM gewen in 2:29,81 asook die 50m-vlinderslag.

Nog ‘n item wat toeskouers op die punt van hulle stoele laat sit het, was die seuns 100m-borsslag. Penryn se Vidhaan Singh het net-net Nelspruit se Rico van Greunen met 0,44 geklop om eerste aan die rand te raak met 1:14,55.

Die dogters se o/14 200m-aflositem was kop aan kop met die swemmers van Curro wat NHS met 0,21 gewen het. Dit was ook ‘n hewige stryd in die o/17-seunsaflos met Uplands eerste in 1:57,02 en NHS tweede met 1:57,48.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button