Skole se top-atlete op pad na SA’s toe
'n Groot groep plaaslike atlete neem volgende naweek aan die Suid-Afrikaanse Skole-atletiek op die Universiteit Nelson Mandela se stadion in Port Elizabeth (PE) deel.
Dit vind van 10-12 Maart plaas.
Die atlete het verlede naweek tydens die Mpumalanga-kampioenskappe (Mussa) in Secunda, vir die SA’s gekwalifiseer. Net die eerste twee plekke kry die geleentheid om in die Oos-Kaap te gaan deelneem.
Laerskool Laeveld se Ashaan Sebastian Greaver (o/13) en Marco Capazorio (o/12) sal hulle skool verteenwoordig. Marco gaan aan die 75m- en die 150m-hekkies deelneem, terwyl Ashaan sy staal in die 100m-, 200m- en 200m-hekkies gaan wys.

Laerskool Witrivier spog met vyf atlete wat vir die byeenkoms gekwalifiseer het. Callum van Staden (o/10) het verlede naweek ‘n rekord in die 100m in 13,50 opgestel. Hy sal in die 80m en 100m in aksie wees.
Rhulani Mathebula (o/12) hardloop die 150m, Thabiso Mateba (o/13) sal deel wees van die hoogspring, terwyl Darryl Green (o/13) by die verspring in aksie sal wees. Die blitsvinnige, Naki Fakude (o/11) neem aan die 80m deel.

Laerskool Nelspruit is net so trots op hulle sewe atlete wat SA’s toe gaan.
Anje Nel het behoorlik gesorg vir opwinding toe sy twee nuwe Mpumalanga-rekords verbeter het. In die 150m-hekkies behaal sy ‘n eerste plek en nuwe rekord met ‘n tyd van 22,13 en in hoogspring behaal sy ‘n eerste plek, en nog ‘n rekord met ‘n hoogte van 1,50m.
Sy behaal ook ‘n eerste plek in die 75m-hekkies met ‘n tyd van 12,40.
Shanese de Clerk loop breëbors rond met ‘n nuwe rekord in die verspring, met ‘n afstand van 4,62m. Sy sal ook volgende naweek hoogspring doen. Tanya Pieterse (1 200m), Asley Erasmus (gewigstoot), Nathan Duncan (1 200m), Nicci Viljoen (200m-hekkies) en Shana Scott (diskus) is die ander Nellies wat gekwalifiseer het.

Uplands Preparatory het drie atlete wat hulle plekke op die vliegtuig bespreek het. Akani Sibuyi (o/10) het in Secunda ‘n tweede plek in die verspringput met ‘n afstand van 3,8m behaal. Sellin de Beer (o/12) het ‘n goud in verspring om sy nek gehang met ‘n massiewe sprong van 4,94. Della Alberts (o/11), wat in die 1 200m tweede was met ‘n tyd van 04:12, sal volgende naweek aan dié item deelneem.

