Ondersteuningsatlete kry hulle kans om te skitter
Laerskool Witrivier het die kitaar tydens die jaarlikse atletiekbyeenkoms vir ondersteuningsklasse behoorlik geslaan.

Skole van regoor die hele Mpumalanga is uitgenooi en altesaam 11 was deel van hierdie heerlike dag vir leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes. Laerskole Middelburg, Secunda, Kragbron, Hoëveld, Onverwacht, TP Stratten, Goedehoop, Klipfontein, Barberton en Nelspruit Primary was op die dag in aksie.
Ten spyte van die hitte, het die atlete die dag baie geniet en verskeie medaljes is oorhandig. “Baie dankie aan elkeen wat van hierdie dag ‘n reusesukses gemaak het. Graag wil ons ook baie dankie sê aan NTT Toyota Witrivier vir die borg van Laerskool Witrivier se T-hempies. Die atlete het pragtig gelyk. Dit was voorwaar ‘n wonderlike geleentheid vir die deelnemers en elkeen het dit terdeë geniet,” vertel Aldorette Swart, kommunikasiebeampte van Laerskool Witrivier.






























































