Netbalspelers durf langpad aan vir kursus
Drie van Komati Akademie se netbalspanne het net ná die Paasnaweek die langpad na Raloka Netball Ranch aangedurf.
Die o/16-, o/17- en o/18-netbalspanne van Komatipoort Akademie het al vroeg in die jaar hard gewerk om fondse vir ‘n netbaltoer na Raloka Netball Ranch in te samel. Shanel Louw, die jonger spanne se afrigter en Janine Steyn, afrigter van die seniorspan het die meisies vergesel.
Tydens die toer het spelers die voorreg gehad om onder die bekwame leiding van Elize Kotze, ‘n voormalige Proteaspeler en -afrigter, hulle vaardighede op te skerp. Rheta Stronkhorst het nie net die rol van busbestuurder en spanbestuurder gespeel nie, maar ook ‘n wakende oog oor die spelers gehou. Sy het ook gedien as ambulansbestuurder en met al die meisies op die bus, ook as bestuurder van hoë emosies opgetree.
“Ons netbalkennis is verryk en ons spanne het heerlik gees gebou. Ons het as ‘n hegter groep teruggekeer en is reg vir die seisoen,“ het Steyn opgemerk.

