Grey een te veel vir Laeveld-skole
Laerskool Grey College se rugbyspan het die hele pad van Bloemfontein af gereis om wedstryde teen ons plaaslike skole te speel.

Hulle het onder andere teen laerskole Laeveld, Bergland, Nelspruit en Nelspruit Primary te staan gekom. Laerskool Nelspruit se Leeus het wel ‘n duur rugbyles by die Springbokfabriek van Bloemfontein se Grey College gekry, maar die ondervinding wat die seuns opgedoen het, was van onskatbare waarde.
Grey beplan nou ‘n jaarlikse interskole teen Nellies wat moontlik Hoërskool Nelspruit en Grey College se hoërskool-spanne ook kan insluit.
Die skakelbeampte van Nellies, Johan Orton het gesê: “Ons moet onsself teen die bestes meet en sodoende sal ons rugby van krag tot krag gaan. Gesonde, vriendskaplike eerlike, mooi rugby, waar spelers die spel kan geniet en vriendskapsverhoudinge kweek, is waaroor dit tog gaan.
“Die wenfaktor is natuurlik belangrik, maar as elke speler in ‘n span sy beste gee en in sy hart weet hy het alles gedoen, wat fiksheid, vaardigheid, oefeninge bywoon en gesindheid betref, en dan nog steeds verloor, is hy vir seker ‘n wenner. Ek dink persoonlik elke beker en telbord in Suid-Afrika op skolevlak moet afgebreek word.
“Rugby moet gespeel word omdat ons kinders dit moet geniet. Suid-Afrika moet eers weer vaardighede leer ontwikkel, ons moet eers leer om die spel korrek te speel voor ons borge of bekers verdien. Die spel moet vloei soos in die Danie Gerber-era.
“Ons volk het alles en nog meer in ons gene om weer die beste atlete in wêreldrugby te word.”
Hoërskool Nelspruit se Steval/KMIA Rhinos het hulle “kleinboeties” passievol langs die veld ondersteun.
Loer hier na aksiefoto’s: Foto’s: Primary en Bergland vs. Grey College
Uitslae
Nelspruit
• Eerstes – Nellies 0 – Grey 43
• Tweedes – Nellies 0 – Grey 39
• O/11’s – Nellies 0 – Grey 46.
Laerskool Bergland
• Eerstes – Bergland 0 – Grey 47
• Tweedes – Bergland 0 – Grey 62
• O/11 – Bergland 0 – Grey 57.
Nelspruit Primary
• O/11 – Primary 0 – Grey 38.
