IN FOTO’S: Onderberg-atlete maak amok by Panorama Interlaer
Dié groep Onderberg-atlete het die omgewing en die name van hul onderskeie skole hoog gehou deur hul prestasies tydens die interlaer.
Atlete van Laerskool Malelane en Komatipoort Akademie het tydens die onlangse Panorama Mediumskole Interlaer amok gemaak, met die Lanies wat algeheel tweede geëindig het.
Dié interlaer was deur Laerskool Burgersfort aangebied met sewe deelnemende skole. Buiten Malelane, Komatipoort en Burgersfort het laerskole Numbi, Graskop, Sabie asook Steelpoort Akademie aan die byeenkoms deelgeneem. Dit was ‘n witwarm dag, maar die atlete uit die Onderberg was vasbeslote om te bewys hulle word glad nie deur die hitte gestuit nie.
Komatipoort se atlete het uitgestaan met ‘n totaal van 21 medaljes – vyf goud, nege silwer en sewe brons. Die Lanies het wel in ‘n ander rat in geskop en 44 medaljes ingepalm – 19 goud, 17 silwer en agt brons. Malelane het dus tweede op die punteleer geëindig, ná Graskop, en Komatipoort in die sesde plek. Malelane het die persentasiebeker gewen – dié trofee word aan die skool gegee wat die meeste punte behaal het in vergelyking met hul hoeveelheid atlete.

Die mees bekroonde Komatipoort-atleet was Harrison Williams met drie goue medaljes in die o. 10-ouderdomsgroep – 80 m (11;59 s); 100 m (14;72 s) en verspring (3,99 m). Harrison was ook as die beste senior seunsbaanatleet, beste verspringatleet en senior victor ludorum gekroon.
In die Lanies se kleure het o. 12-atleet Amber Lourens die skool met trots verteenwoordig. Sy het drie goud – 1 200 m (04:42;75), hoogspring (1,25 m) en verspring (4,25 m); een silwer – 150 m-hekkies (27;18 s) en een brons (150 m, 23;34 s) ontvang. In die o. 11-dogtersgewigstootitem het Malelane se Berenice Silinda ‘n uitstekende 804 ASA-punte verwerf vir haar poging van 8,8 m om die toekenning vir die beste algehele prestasie van die dag te ontvang. Sy was ook as die beste dogtersgewigstootatleet aangekondig.
Ander individuele toekenningwenners uit die Onderberg was Ethan Vermaak (Komatipoort) – beste seunsveldatleet; Melienke Fourie (Malelane) – beste dogtershekkiesatleet; Louw Smit (Malelane) – beste seunsgewigstootatleet; en Mbalenhle Mabona (Malelane) – beste dogtersverspringatleet.


































