Danie Rossouw-week gereed om Laeveld in rugby-mekka te omskep
Twee-en-twintig skole gaan mekaar die stryd aansê tydens die Danie Rossouw Rugbyweek.
Rugby-aanhangers kan gereed maak vir die 2026 Danie Rossouw Rugbyweek wat op 28 Maart by Hoërskool Rob Ferreira afskop.
Twee-en-twintig skole, met 60 spanne gesamentlik en 30 wedstryde per dag, gaan sorg vir ‘n propvol week van aanskoulike rugby.

Die rugbyweek, wat sedert 2012 jaarliks plaasvind, sluit skole vanuit vyf provinsies in. Hoërskool Empangeni van KwaZulu-Natal en Hoërskool Vryburg van Noord-Wes is van die skole wat die verste reis om dié geleentheid by te woon.
Alhoewel die week nie ‘n tradisionele kompetisieformaat volg nie, ding spelers mee om ‘n plek in die o. 16- en eerstespan-toere na Spanje en Frankryk later vanjaar te behaal.
Daar is hierdie jaar vyf nuwelinge – Hoërskool Empangeni, Standerton Hoërskool, Hoërskool Pietersburg, Hoërskool Oosterlig en Hoërskool Fochville.
Die nuwe mededingers kan sorg vir interessante kompetisie en ‘n nuwe dinamika tussen gereelde spelers.
Die hoofborge vir die week is Remax Winners, Steers en Lowveld Live. Ander borge sluit Laevelder, Airlink Pumas en CRC Clothing in.
Rugbyliefhebbers wat nie die geleentheid sal kan bywoon nie, kan al vier velde se wedstryde regstreeks stroom op YouTube.
Skakels kan op die Danie Rossouw-webtuiste gevind word.

