Adverteer en wen tydens Innibos!
Besighede wat in Muskiet adverteer staan hierdie jaar weer 'n kans om die Muskiet Afrikaanse Reklametoekenning te wen.

MBOMBELA – Dis byna tyd vir die Innibos Nasionale Kunstefees en vir feesgangers se gunstelingkoerant, die Muskiet, om te verskyn.
Besighede wat in dié publikasie adverteer staan hierdie jaar weer ‘n kans om die Muskiet Afrikaanse Reklametoekenning te wen. Dié toekenning is ‘n blyk van waardering aan besighede wat gehelp het, met die bevordering van Afrikaans en Innibos ondersteun het.
Om in aanmerking te kom, plaas ‘n volkleur-Afrikaanse advertensie in die amptelike feeskoerant, wat op 2, 3, 4, 5 en 11 Julie verskyn.
Die advertensie mag by die tema van “Innibos is alles moontlik” aansluit. Slegs advertensies wat ‘n ¼-blad of groter is, kom in aanmerking. Dit sal deur Sandra Jacobs van Innibos en Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV, beoordeel word.
Saam met die toekenning ontvang die wenners publisiteit in Laevelder tydens die oorhandiging, ‘n 50-persent krediet op die advertensie wat reeds bespreek is om op 11 Julie in die Muskiet te verskyn en ‘n naweekwegbreek vir ses mense by een van die ATKV-vakansieoorde.
Die wenner sal kan kies tussen ATKV-Buffelspoort naby Rustenburg, ATKV-Drakensville aan die voet van die Drakensberge naby Bergville, ATKV-Eiland Spa naby Tzaneen, ATKV-Goudini Spa naby Worcester, ATKV-Hartenbos langs Mosselbaai, ATKV-Klein Kariba naby Bela Bela en ATKV-Natalia by Illovo in KwaZulu-Natal. Vir enige navrae kan besigheide vir Michelle Botha, groepverkoopsbestuurder van Laevelder by 013-754-1663 skakel.
