Wat is te siene by Innibos 2014
Tien gelukkige Innibos-ondersteuners kan ook dubbelweekkaartjies na vanjaar se fees wen. Al wat jy moet doen om hiervoor te kwalifiseer, is om daar te wees wanneer Pieter die loodskonsert afskop.

MBOMBELA – Wat het Bobby van Jaarsveld en Pieter Koen in gemeen? Pieter het ‘n “tattoo op sy linkerboud” en Bobby is besig om sy tatoeëermerke te verwyder. Maar wat hulle werklik in gemeen het, is dat albei by Innibos se loodskonsert kom kuier.
Die gemeenskap word gooi om vanaand
(23 Mei) om 18:00 saam te kom makietie hou op Hoërskool Bergvlam se sportterrein.
Die koue het hierdie jaar vroeër as verwag op die Laeveld toegesak, so bring maar ‘n lekker warm baadjie of kombers saam, asook ‘n stoel of kussing om op te sit. Onthou die feesgees – sommer baie daarvan! Los die drink- en eetgoed by die huis – daar sal heerlike kosstalletjies wees om die hongerpyne te stil.
Hierdie konsert en programbekendstelling is gratis en is dié geleentheid op die kalender wat nie misgeloop moet word nie. Bobby het geen bekendstelling nodig nie. Sedert hy in 2006 die musiekarena betree het, het hierdie jong kunstenaar in baie Suid-Afrikaners se harte ingekruip. Sy pragtige stem, vriendelike persoonlikheid en opregtheid wen daagliks vir hom nog bewonderaars. Hy gaan van die gewildste liedjies op sy twee platinumstatus-albums, Net vir jou en Wat geld nie kan koop nie by die Innibos se loodskonsert sing.
Die gewilde girl band, BlackByrd het verlede jaar op die Innibos Kunspark en Vodacomverhoog hul buiging gemaak. Die gehore was mal oor hulle musiek en die feesbestuur het besluit om hulle te nooi om vanjaar by die loodskonsert te sing. Behalwe dat hulle beslis iets vir die oog is, kan hierdie drie ook ‘n barshou sing. Hulle begelei hulleself op akoestiese kitaar en het ‘n unieke country-klank. Hulle eerste treffer All for me word deur talle radiostasies gespeel en daar word nog baie van hierdie talentvolle trio verwag.
Tien gelukkige Innibos-ondersteuners kan ook dubbelweekkaartjies na vanjaar se fees wen. Al wat jy moet doen om hiervoor te kwalifiseer, is om daar te wees wanneer Pieter die loodskonsert afskop. Hy is die seremoniemeester, maar gaan ook ‘n paar liedjies van sy splinternuwe album, Wat die hart van vol is, sing.
Innibos het hierdie jaar ‘n baie besondere program saamgestel om by die tema, “Innibos is alles moontlik,” te pas. Tydens hierdie geleentheid gaan die feesgidse, wat deur Laeveld Media uitgelê en gedruk is, gratis aan almal uitgedeel word. Daarin is die hele program met al die feesinligting vervat. Innibos beplan talle verrassings hierdie jaar. “Maar as ons dit hier uitblaker, is dit mos nie meer ‘n verrassing nie,” sê Sandra Jacobs, Innibos se media- en bemarkingsbestuurder. Sy sê dat feesgangers tydens die fees hulle oë moet oophou. Met meer as 300 akteurs, sangers en kunstenaars wat die fees besoek, kan ‘n mens dalk net ‘n bekende op vreemde plekke teëkom. “Kom geniet gerus hierdie heerlike aand saam met ons,” sê Andy Lubbe, feesbestuurder. ‘n Terrein vol lekkertes, uitgesoekte produksies, ongelooflike kunsuitstallings, interessante boekgesprekke, uitstallers met uithalerprodukte en nog vele meer kan vanjaar verwag word.
Innibos 2014 gaan – soos al die ander jare – uit die boonste rakke wees.
Dit vind vanjaar vanaf 2 tot 6 Julie plaas. Vir meer inligting skakel gerus die feeskantoor by 013-741-5294 of besoek www.innibos.co.za
