Besoek die Kyknet kos-crawl
By Innibos se splinternuwe kos-crawl gaan daar rondom kos, kokkedore en kunstenaars by die Mbombela-stadion gekuier word.
KykNET KOS-CRAWL
Met Kevin Leo, Kokkedore Tiaan en Mynhardt, Sarel van Sabie, Marinda Engelbrecht en Herman Lensing.
Datum en tyd: Vr 4 Julie 10:00, 14:00 en 18:00
Plek: Mbombela Stadion
Tydsduur: 240 minute (4 uur)
Gradering: Volwassenes
Kaartjieprys: R202
Produksie geborg deur kykNET, produkte verskaf deur Van Loveren, Specco en B-Well
’n Innibos-produksie
By Innibos se splinternuwe kos-crawl gaan daar rondom kos, kokkedore en kunstenaars by die Mbombela-stadion gekuier word.
Kevin Leo is die eerste wat sy kookvernuf ten toon stel. Hy is ’n bobaassjef met ’n voorliefde vir onthaal, en bied die singende sjef aan waar hy sing terwyl hy heerlike kos berei. Vermaak uit die boonste rakke.
Dan gaan die vorige wen-kokkedore Tiaan Langenegger en Mynhardt Joubert van kykNET se werklikheidsreeks en Makietie-aanbieders tamaties omtower in heerlike geregte: van tamatiesous tot tamatiekonfyt, van tamatiedrankies tot gerookte tamaties.
By die volgende aandoenplek gaan feesgangers Sarel van Sabie en Sarah Theron wys dat kos en musiek vir ’n heerlike saamkuier-geleentheid kan sorg. Sarel gaan demonstreer hoe skaapboud met verskillende soetrissies gevul kan word terwyl Sarah Theron haar treffers soos Skil die tamaties, My Ouma Sêra en Briefie aan Madiba gaan sing.
Dan beweeg die feesgangers na die stadion se ouditorium waar die produksie Voorskoot en lipstiek hierdie genotvolle kosreis op ’n baie spesiale manier voortsit.
Kokkedoor–deelnemer Marinda Engelbrecht en Herman Lensing, Sarie se kosredakteur, is twee van die bestanddele wat hierdie teater-produksie uniek maak. Voeg nog Marion Holm se teks en regie saam in die pot en jy het ’n vuurwarm produksie wat kook. Al die sintuie word geprikkel: jy sien, ruik, hoor en ervaar hoe die liefde vir kos mense saambring. ’n Skerm gaan verseker dat die gehoor tot binne-in die pot sal kan sien sodat dit ’n ware teater-kos-ervaring kan word. ’n Pakkie Specco-rys aan die einde van die produksie sal sorg dat jy ook die vreugde van kos huis toe kan neem.
Die kykNET Kos-crawl word afgesluit met ’n reuseverrassing. Kom ontmoet die Kokkedoor 2 se wenners! Dit is hulle heel eerste openbare verskyning aangesien die wenners eers op 3 Julie 2014 aangekondig word. Kom geniet een van hulle spesiale soet verleidings saam met ’n heerlike koppie gourmet-koffie.
Let daarop dat hierdie nie ’n ete insluit nie en dat feesgangers net ’n peuselhappie kry van al die demonstrasies.
Moenie hierdie unieke geleentheid misloop nie.
