Wees deel van kuns en kultuur
Verskeie bekende name sal die jaar hulle kunswerke by die fees uistal.

VISUELE KUNS
Feeskunstenaar: Hanneke Benade
Nelspruit Burgersentrum
Daagliks 10:00 – 20:00
(STANDARD BANK LOGO)
Hanneke Benade is ’n kunstenaar wat met haar unieke en sensitiewe pastelportrette reeds landswyd erkenning en lof verwerf het. Haar werk lewer geen sosiale of politiese kommentaar nie. Temas in haar werk handel oor haar lewe en haar eie outobiografie wat in metafore uitgebeeld word. Die tonele illustreer ‘n huidige fase of emosionele tog in haar lewe op ‘n stil en introspektiewe wyse.
Die titel vir haar solo-uitstalling by Innibos 2014 is Markens Grøde. Die titel het sy ontstaan vanaf ’n gelyknamige boek deur die Noorweegse skrywer Knut Hamsun, in Engels vertaal as Growth of the Soil (1917). Hamsun het in 1920 die Nobelprys vir letterkunde ontvang vir hierdie werk. Dis die verhaal van ‘n individu: ‘n pionierboer wat nuwe terrein ondersoek – op ’n fisiese en metafisiese vlak. Die uitstalling verwys na die ontdekkers en verkenners wat pioniers was van hulle tyd – die vrydenkende, onafhanklike denkers. Onder dié word ook bestaansboerderye getel en dié wat omgewingsvriendelik en verantwoordelik leef. Die tema vind veral uitdrukking in die terugbeweeg na ‘n selfonderhoudende bestaan en hoofsaaklik na die grond.
Hanneke Benade is ongetwyfeld een van Suid-Afrika se mees vooraanstaande kontemporêre kunstenaars. Haar werke is vele openbare- en korporatiewe-versamelings opgeneem.
Vir meer inligting en om te bespreek vir ons kunsrondleiding deur die feeskunstenaar, skakel Pieter van Heerden by 082 774 4390.
Dialogues
Nelspruit Burgersentrum
Die Franse ‘Dialogues’-uitstalling is ‘n versameling van hoogstaande Suid-Afrikaanse kunstenaars wat in 2013 hul werke as deel van die SA Franse ‘Dialogues’-uitstalling, in die Franse hoofstad se Senaat-Orangerie uitgestal het. Philip Badenhorst se pragtige olieverfwerke, Lynette ten Krooden se landskappe met hul unieke goudbladwerk en gesigstudies deur Peter Sibanda is onder andere deel van hierdie uitstalling.
Umjindi Juweelkuns uitstalling
Burgersentrum
Die Umjindi-uitstalling vertoon sierlike en betowerende juwelierswerke van verskeie talentvolle juweelontwerpers.
Oor die jare het Umjindi Juweliersware hul eie unieke reeks silwerjuweliersware ontwikkel wat geïnspireer is deur Nukain Mabuza. Mabuza, wat in die Barbertonse gebied gelewe het, het beroemdheid verwerf met sy “rotstuin” van geverfde klippe in hul natuurlike omgewing op pad na Kaapmuiden.
Werke uit hul nuutste ontwerpsreeks sal by Innibos vertoon word.
Dumela Innibos
Burgersentrum
Ses van ons mees bekende swart kunstenaars bring ’n verskeidenheid van opwindende werke om hierdie gesamentlike uitstalling ’n besondere kyk-ervaring te maak. Werke van Daniel Mosako en Malose Pete sal onder andere hier te sien wees.
Dit Blom Innibos
Nelspruit Burgersentrum
‘n Verskeidenheid Pretoriaanse kunstenaars besing die skoonheid en prag van blomme op ‘n reeks vierkantige borde wat saam uitgestal word. André Naude en Drini Jacob se kleurvolle werke is onder andere deel van hierdie pragtige uitstalling.
Tony Frederiksson: Beeldhou-uitstalling
Nelspruit Burgersentrum
‘n Beeldhou-uitstalling van die bekende Tony Fredriksson van Witrivier vul ruimtes as vertoonstukke met inspirasie en verbeeldingrykheid. Hy het bekendheid verwerf vir sy dryfhoutbeeldhouwerke waarmee hy in 2007 begin het. Visse, mense, voëls en diere vind op unieke wyse gestalte wanneer hierdie meester hul saamsnoer om besonderse kunswerke te skep.
Dylan Graham en Alet Pretorius: White Light
Nelspruit Burgersentrum
Die gesamentlike uitstalling van Dylan Graham en Alet Pretorius is ‘n kunstige en ontroerende samevoeging van fotografie en skilderkuns. Alet is ‘n veelbekroonde en bekende foto-joernalis en Dylan ‘n opwindende jong skilder. Hulle is reeds vir die afgelope ses jaar vennote. Met hierdie uitstalling vertoon hulle die sinergiese verhouding tussen skilder en fotografie.
Laeveld Palet: Innibos is alles moontlik …
Nelspruit Burgersentum
‘n Versameling werke deur kunstenaars van die Laeveld vertoon die kunstenaarstalent en oorspronklikheid wat in hierdie deel van ons land gevind word. Kunstenaars van die Laeveld is voorsien van eenvormige ronde houtrame waarbinne hulle na hartelus hul verbeelding vlug kon gee. Verwag verrassende tegnieke en ‘n wye verskeidenheid temas in hierdie opwindende uitstalling.
KUNSTENAARS DEMONSTRASIEKLASSE
(Sit hierdie asb in ‘n aparte blokkie)
Innibos bied vanjaar verskeie kunstenaars-demonstrasieklasse aan. Op Woensdag 2 Julie en Vrydag 4 Julie om 14:00 bied Hanneke Benade, die 2014 Innibos feeskunstenaar, ‘n portretstudie demonstrasieklas aan. Op Donderdag 3 Julie sal André Naudé weer ‘n demonstrasieklas aanbied. Hierdie klasse vind almal by die burgersentrum plaas. Bespreek asseblief by Nandi Hillard by 083 288 5117 of Pieter van Heerden by 082 774 4390.
INNIBOS KUNSKURATOR
Innibos se Visuele Kunsprogram 2014 word onder kuratorskap van Pieter van Heerden, die direkteur van die Kunsvereniging van Pretoria, en welbekend in kunstekringe, waargeneem.
KUNSTEKRONKEL BEGELEIDE DAGTOER
Datum en tyd: Wo 2 Julie 8:30, Do 3 Julie 8:30, Vr 4 Julie 8:30
Optelpunt: Mbombela Kunsgalery (Ou van Riebeeckpark-saal)
Tydsduur: heeldag
Prys: R150 (152) Die prys sluit ’n middagete en ‘n kronkelgeskenkpakkie in.
Na afloop van verlede jaar se uiters suksesvolle kunstekronkel en op versoek van kunsliefhebbers is daar besluit om dié kunservaring uit te brei en daarvan ’n dagtoer te maak. Dit is vanjaar ’n gesellige kronkel vanaf 8:30 tot 17:00 volgeprop met alles wat merkwaardig, uniek, uitmuntend en moet-sien-kuns in die Laeveld is.
Ons skop af by die Mbombela Kunsgalery waar plaaslike kunstenaars se werke ten toon gestel word. Vandaar vertrek ons na die Nelspruit Burgersentrum, waar die hoofuitstalling te siene is. Hiervandaan kronkel ons Witrivier toe om die Bosch Ateljee en Galery, Esra Brosch se ateljee en The Loop te besoek. Ons kronkel ook na Casterbridge om die Witrivier Galery te beskou en middagete te geniet. Ons sluit ons toer af by Stoep om te sien hoe Casper de Vries kuns skep.
Kom kuier saam, beskou saam, eet saam, kuns saam! By Innibos se kunstekronkel is alles moontlik!
(Indien u van plan is om saam te kronkel, raai ons u aan om nie vertonings vir die laatmiddag te bespreek nie aangesien dié ’n feestige voldagtoer is).
Bespreek by Computicket.
KUNSTEKRONKEL BESOEKPUNTE
MBOMBELA KUNSGALERY (Ou van Riebeeckpark-saal)
Die Mbombela Kunsgalery is die begin- en eindbesoekpunt van die kunstekronkel. Bekende plaaslike kunstenaars asook die Laeveld Kunsvereniging se kunswerke word hier ten toon gestel in ‘n spesiale uitstalling wat vir Innibos saamgestel is.
Die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit se kunsversameling kan ook besigtig word. Dit sluit kunswerke van Walter Batiss, Thinus de Jong, Lucky Sibiya, Judith Mason, Zakkie Eloff, Esias Bosch en Keith Alexander asook talle ander werke van ou meesters in.
Navrae: Marietjie Henning( Kunskurator) by 013 759 2043 of 083 560 6057.
BOSCH ATELJEE EN GALERY
Anton en Hanlie Bosch werk vanaf hul ateljee in die buitewyke van Witrivier waar hulle ‘n verskeidenheid unieke kunswerke skep. ’n Versameling kontemporêre-keramiekwerke kan hier besigtig kan word. Dit sluit porseleinvase, -bakke en -borde, groot dekoratiewe muurpanele en teëls in. `n Nuwe toevoeging tot die galery se uitstalling is die fyn, handgemaakte porseleinjuwele deur Nina Bosch.
Navrae: Anton by 083 456 3272; Hanlie by 082 321 4318 en Nina by 079 891 7240.
ESRA BOSCH
Esra Bosch is landswyd bekend vir haar uitmuntende keramiek- en pottebakkerswerk. Haar werke pronk met haar uitstekende dekoratiewe vaardighede – dis ’n skouspel van kleure en patrone. Die estetiese en visuele kwaliteit van elke werk is vir die besoekers aan die ateljee ’n onvergeeltlike ondervinding. Esra se toegewydheid aan haar werk spoel oor na haar ongewing en dit is duidelik waarneembaar in die warm atmosfeer van die ateljee waarin haar werke uitgestal word.
Navrae: Esra by 013 751 2859.
THE LOOP ART FOUNDRY & GALLERY
The Loop Art Foundry & Gallery naby Witrivier is ’n funksionele beeldwerkgietery en galery waar verskeie kunstenaars se werke uitgestal word. Die kwaliteit en passie waarmee daar by The Loop gewerk word is die rede waarom verskeie welbekende kunstenaars hier hul gietwerk doen. Vanweë The Loop se uitmuntende werk vind talle kunsliefhebbers en -versamelaars hier ’n tuiskoms.
Navrae: Elvy Ca?adas by 013 751 3001 of 072 215 5536.
THE WHITE RIVER GALLERY
On the Edge
The White River Gallery naby Witrivier bied aan die kunsliefhebber die ideale geleentheid om van die beste plaaslike kuns te waardeer. Die uitstalling, On the Edge, wat vanaf 28 Junie tot 28 Julie strek, spog met kunswerke van onder andere Maria van Riebeeck Pienaar, Eveline Casson, Ilona Petzer, Celeste Higgs, Erica Schoeman en Annalie Odendaal.
Navrae: Marlize by 013 7512152.
STOEP
Casper de Vries – Dierbaar
Casper de Vries is bekend as komediant, akteur, vervaardiger, regisseur en nou het hy ook skilder by daardie lang lys van suksesse gevoeg. Hy het ’n paar jaar gelede begin skilder as stokperdjie, maar weldra besef dat hierdie ’n veel groter passie is.
Casper se kreatiwiteit kom tot gestalte in sy werke. Sy skilderye is vol menslikheid en hy eksperimenteer met verskillende style en tegnieke.
Hy het reeds verskeie solo-uitstallings agter die blad en het spesiaal vir Innibos’n versameling van sy kunswerke saamgestel onder die titel ”Dierbaar” waar diere die fokuspunt is. En natuurlik is Casper se kinder-honde, Elfrida en Kent ook hier om te kom deel in die opwinding.
Casper is vir die volle duur van die fees by Innibos. Sy werke is by Stoep (reg langs die Innibos-kantoor) te sien en te koop. Casper is ook daagliks vanaf 16:00 tot 17:00 daar om oor sy werke te gesels.
Navrae: Stoep by 013 741 2551.
