FeaturesInnibos NuusLifestyle

Kom geniet jou gunsteling films by die KykNet Bosbioskoop

Kom geniet ‘n keur van die beste Afrikaanse films wat die afgelope jaar verskyn het en die 13 wenners van die kykNET Silwerskerm Kortfilmfees.

Die kykNET Bosbioskoop is ‘n gratis fliekvenue op die feesterrein. Kom geniet ‘n keur van die beste Afrikaanse films wat die afgelope jaar verskyn het en die 13 wenners van die kykNET Silwerskerm Kortfilmfees.

Die onderstaande films is by die Bosbioskoop te sien, kliek hier vir die program

Faan se Trein

Met o.a. Willie Esterhuizen, Anel Alexander, Deon Lotz, Cobus Rossouw en Marius Weyers

Faan se Trein is ’n rolprent gebaseer op die verhoogstukke, Faan se Trein en Faan se Stasie, deur Pieter Fourie. Dit speel af in die laat vyftiger jare en gaan oor ’n eenvoudige middeljarige man op ’n klein Karoodorpie wat nooit verby die onskuld en eenvoud van ’n jong kind ontwikkel het nie. Wanneer sy pa sterf, los hy al sy besittings om verdeel te word tussen Faan en die kerk. Onmiddellik verskeur gierigheid die gemeenskap … todat liefde hulle weer tot hul sinne bring.

Die Windpomp

Met o.a. Armand Greyling, Leandie du Randt, Ian Roberts, Marga van Rooy en Grethe Fox.

Die Windpomp is ‘n humoristiese en quirky liefdesverhaal van 17-jarige Hendri wat op die voorstoep van sy seniele oupa in ‘n aftree-oord beland. Sy wêreld bestaan gou-gou uit tuinornamente, Bingo-aande en vreemde, bejaarde gedrag.

Een aand sien Hendri vier donker figure wat geheimsinnig deur die aftree-oord se tuine nael. Hy agtervolg hulle tot waar hulle in die maanlig in ‘n dam aan die buitewyke van die dorp baljaar. Dan verskyn ‘n beeldskone meisie vanuit die donker en stel haarself voor. Die vriendskap wat tussen hulle ontwikkel groei tot baie meer as wat beide kon voorspel, maar Hendri se nuwe wêreld versteek baie meer geheime as wat hy kon raai.

Die Windpomp het sy lewe in 2011 begin as ‘n quirky AFDA Filmskool kortfilm. Dit het 11 AFDA-toekennings verwerf en is tans die amptelike Suid-Afrikaanse inskrywing vir die studente Oscars.

Pad na jou Hart

Met o.a. Ivan Botha, Donnalee Roberts, Marius Weyers en Franci Swanepoel.

Basson van Rensburg, ‘n jong, aantreklike en selfvoldane besigheidsman, het vyf dae om by sy pa se begrafnisdiens in Kaapstad uit te kom, maar hy moet sekere take op hierdie reis voltooi voordat hy die suksesvolle familiemaatskappy kan oorneem.

Sy enigste kans om betyds daar aan te kom, is ‘n saamrygeleentheid met die beeldskone boheemse meisie, Amory. Hul reis word gekenmerk deur verskeie avonture, teleurstelling, hartseer en uiteindelik word hulle gekonfronteer met die wete dat jou lewenspad soms onvermydelike slaggate en afdraaipaaie het. Maar maak nie saak hoe moeilik die pad mag wees nie, op pad na ware liefde, is waar jy jou ware noord sal vind.

Konfetti

Met o.a. Louw Venter, Nico Panagio, Casey B. Dolan, Kim Engelbrecht, Casper de Vries, Christel van den Bergh en Jana Strydom.

Jean (Nico) en Sheryl (Casey) gaan trou. Hy is Afrikaans, sy Joods. Daar is maar spanning tussen die families en boonop het die strooijonker (Louw) vriende met die drankbottel gemaak en vergeet om die trou-orkes te bevestig.

In desperaatheid vind hy die eerste sanger (Kim) wat beskikbaar is. Groot fout! Dié is die bruid se vyand en vinnig verander die groot dag in ’n groot gemors.

Dié fliek beloof om jou nie nét te laat lag nie, maar ook te laat huil.

KORTFILMS

Die kortfilms wat by die KykNET Bosbioskoop vertoon word is almal 24 minute lank – net reg vir ‘n lekker wegbreek van die roesemoes op die feesterrein!

Beskermhere (bonatuurlike donker komedie)

Met o.a. Deon Lotz, Leon Kruger, Milan Murray, Hannah Borthwick en Brendon Daniels.

Regie: Beer Adriaanse en Jaco Smit

Adriaan Bam is nie reg om dood te gaan nie. As juis dit gebeur, wil sy beskermengel die heelal se reëls verbreek om hom nog ’n kans te gee, maar dit het burokratiese gevolge!

Bloedson (gruwel)

Met o.a. Wilhelm van der Walt, Jacques Theron en Karli Heine.

Regie en draaiboek: Albert Snyman en Louis Pretorius

Twee broers veg weens donker geheime verbete teen mekaar in die Anglo-Boereoorlog. Dan kom hulle af op ’n meise wat skynbaar aan hondsdolheid ly en die regte oorlog begin …

Damduikers, dié Damduikers (aksie-komedie)

Met o.a. Albert Maritz, Francois Jacobs en Viljee Maritz.

Regie: Adriaan van As

Die Fieta-bende en Jozi-yuppies kompeteer by die jaarlikse visvangkompetisie om te wys aan wie die dam behoort. Dié oorlog van komplotte en sabotasie het lagwekkende én dramatiese gevolge.

Die Bach Motief (drama)

Met o.a. Nicole Holm, Erica Wessels, Tinarie van Wyk Loots, Hannes van Wyk en Roeline Daneel.

Regie: Dewet van Rooyen

Amanda, ’n musiekonderwyseres, en Bianca, ’n konsertpianis, wat beide trauma meemaak, ontmoet mekaar danksy Celeste in wedersydse empatie en weerloosheid, met Bach-musiek as metafoor.

Ompad (romantiese komedie-drama)

Met o.a. Ceylonia Bekker en Riaan Cruywagen.

Regie: Sanchia Esterhuizen

Andrea laat ’n afsê-briefie en verloofring by Sean se woonstel voor sy met vakansie na Taiwan vertrek. As sy daar besef sy het ’n fout gemaak, wil sy so gou moontlik terugkeer om sake terug te draai. Sal sy betyds wees?

Prinses (bonatuurlike drama)

Met o.a. Bertha le Roux, Dirk Stoltz en Jané van der Westhuizen.

Regie: Morné du Toit

Wanneer die 12-jarige Simoné Rossouw nie druk van haar ouers kan hanteer nie en geteister word deur demone uit haar familieverlede, maak sy voorspellingskilderye …

Toevlug (drama)

Met o.a. Martelize Kolver, Louis du Preez, Amelda Brand, Lulu Botha en Ira Blanckenberg.

Regie: Christiaan Olwagen

’n Middeljarige vrou wat weens ’n drankprobleem in ’n rehabilitasiesentrum beland, ontmoet ander mense met probleme in groepsessies. ’n Film oor toevlug en jellybabies eet.

Die Beleefnis (tragikomedie)

Met o.a. Woutrine Theron, André Odendaal, Dorette Nel en Chris van Niekerk.

Regie: Wynand Dreyer en Gert van Niekerk

’n Eiesinnige ou tannie wil haar eie begrafnis hou as viering van haar lewe. Maar watter desperate hoop skuil agter Magdaleen se ‘beleefnis’?

Die Lang Kat (drama)

Met Erik Holm en Tessa Denton.

Regie: Janhendrik Burger

‘n Kwadrupleeg sit dag na dag voor die venster en wag saam met die kat vir sy vrou om klokslag om 5 uur by die deur in te stap. ‘n Katastrofiese jaloesie begin stadig maar seker in hom broei oor die kat se moeitelose behendigheid in kontras met sy gekluisterde bestaan.

Vashou-ding (drama)

Met o.a. Jana Strydom en Mncedisi Ncedani.

Regie: Lika Berning

Na die tragiese verlies van haar baba voel Mimi vasgevang en trek uit hul weelderige huis. ’n Weggooibaba op die munisipale ashoop lei tot ’n konfrontasie met haar eie vrese en vooroordele. Sal sy haarself ooit kan vergewe en rus vind?

Bullets oor Bishop Lavis (drama)

Met o.a. Abduragman Adams, Charlton George en Diaan Lawrenson.

Regie: Jody Abrahams en Henré Pretorius

Jerome en Ronnie is bloedbroers, maar ’n skietery verander alles. Vyftien jaar later soek tronkvoël Jerome die strafregadvokaat Ronnie om hul ooreenkoms na te kom.

Offer (liefdesverhaal)

Met o.a.Theodore Jantjies, Schelaine Bennett, Denise Newman, Royston Stoffels en Chris van Niekerk.

Regie: Harald Richter

Yusuf en Sadia Mosaval in die Bo-Kaap, wat vir liefde getrou het, vier hul eerste huweliksherdenking. Hulle ervaar innerlike worsteling, maar bewys hul liefde.

Vrek (surrealistiese drama)

Met o.a. André Velts en Tana Ferreira.

Regie: Anton Swanepoel

Nadat stil Stefan sy droomvrou ontmoet, dwing ’n lewensbedreigende siekte ’n keuse af tussen ’n riskante operasie of ’n laaste dag met haar. Maar hy moet eers leer baklei vir wat hy wil hê …

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button