Vir die feesbestuur is alles moontlik
Dit was hoogtyd dat ‘n prima-kunstefees hier kom nesskop!

Toe ons in 2004 met die eerste Innibos se beplanning begin het, het ons geen twyfel gehad dat dit moontlik sou wees om een van die land se top-feeste op die been te bring nie – dit vind immers in een van die mooiste dele van ons land plaas en die Laeveldse gasvryheid is legendaries. Die heerlike weer wat ons hier geniet maak dit boonop ‘n wintervakansiebestemming. Dit was hoogtyd dat ‘n prima-kunstefees hier kom nesskop!
Dis nou 11 jaar later, en die doemprofete en swaarpraters is lankal verkeerd bewys. Innibos is inderdaad een van Suid-Afrika se grootstes en gewildstes. Dit het egter nie sommer vanself gebeur nie. Van meet af aan het die bestuurspan – wat terloops oor die afgelope 10 jaar glad nie verander het nie – dit hul missie gemaak om elke jaar opnuut oor die feesprogram te besin en ‘n feesspyskaart te beplan wat jaar na jaar nuut en oorspronklik is. Daardie doelgerigte soeke na nóg beter en nóg lekkerder het meegebring dat die fees by talle van Suid-Afrika se kunstenaars as hul gunsteling-fees bestempel word. Die ongelooflike positiewe reaksie wat ons jaar na jaar van ons uitstallers, die publiek en ons borge kry, onderstreep .
Innibos is een van die eerste feeste wat ‘n toegangsfooi by ons terrein gevra het. Dit het aanvanklik kritiek uitgelok, maar vandag is al ons ondersteuners dit eens dat jy nêrens beter waarde vir geld sal kry nie. Vir ‘n weekkaartjie van slegs R400 kry jy gratis toegang tot puik vermaak op die feesterrein: meer as 300 kunstenaars wat op die vyf kuierverhoë optree; ‘n gratis filmfees by die kykNET Bosbioskoop; teater-aanbiedings by die Boma Kuierteater en vele verrassings soos die oulike produksie “4 Fragmenste”, wat daagliks in die personeelkamer aangebied word . Daar is ook natuurlik meer as 300 kunsmark-stalletjies en heerlike feeskos. Wat meer kan ‘n mens vra? Boonop het ons besluit om laerskoolkinders vanjaar gratis toegang te bie sodat dit meer bekostigbaar vir gesinne kan wees.
Vanjaar se program is tot boordens toe vol met uitsoek-toneelproduksies, die beste musiek en ‘n Standard Bank Verhoogprogram wat jou asem sal wegslaan. Veral ons Saterdagaand JacarandaFM -konsert, waarin ons die standaard van buitelug Afrikaanse konserte vir ewig gaan verander, is vanjaar ‘n móétsien.
Baie dankie aan elkeen van ons borge, medewerkers, kunstenaars, uitstallers en feesgangers. En veral ‘n groot dankie aan elke bestuurslid, direkteur en projekbestuurder wat agter die skerms werk om alles seepglad te laat verloop. Júlle maak van Innibos die sukses wat dit is – ons stuur maar net die skip in die regte rigting! En vanjaar het ons daardie skip na waters waar selfs die onmoontlike moontlik is, gestuur… Onthou: Innibos is álles moontlik! Geniet die fees!
Andy en Sandra
