Jannie reg vir sy optredes
By vanjaar se fees op Mbombela gaan Moolman by drie produksies betrokke wees, onder andere die heel eerste Innibos Meridian Karino Koorfees.
Na maande se herstel is een van Suid-Afrika se voorste tenore weer terug op die verhoog. Jannie Moolman het op 5 April drie meter ver van ‘n gebou afgeval en baie ernstige beserings opgedoen. Hy was vir drie weke in ‘n kritieke toestand, maar het die laaste paar maande aangesterk en ons vier saam met hom sy gesondheid by die Innibos Laeveld Kunstefees.
By vanjaar se fees op Mbombela gaan Moolman by drie produksies betrokke wees, onder andere die heel eerste Innibos Meridian Karino Koorfees. Hier gaan dié bekende tenoor as gaskunstenaar optree saam met koordirigent Awie van Wyk, komponis Gerard’d du Toit en skoolkore van die omgewing.
Dié konsert word voorafgegaan met ‘n drie dag lange werkswinkel wat koorsang wil bevorder in die Laeveld. Hierdie slypskool eindig dan Woensdagaand 2 Julie met die konsert waar die vrugte gepluk gaan word. Kom geniet hierdie gemeenskapsprojek saam met die kore in die Curro Nelspruit Privaatskool. Moolman gaan ook by die La Villa Vita Gala-aand optree saam met ander klassieke kunstenaars, soos Niël Rademan, Elna van der Merwe en Louis Loock. Hierdie vertoning beloof ‘n harmonie tussen sjarmante musiek en smaaklike kos, met ‘n unieke feeservaring as resultaat. Feesgangers gaan meegevoer word na ‘n wêreld van klanke en formidabele musikante.
Vir diegene wat ‘n bietjie opgewektheid verkies, slaan die 4 Julie Coca-Cola-konsert op die Standard Bank Hoofverhoog die spyker op sy kop.
Die Laeveld gaan weergalm met die musiek van Emo Adams, die einste Jannie Moolman, Theuns Jordaan en een van vanjaar se grootste pryswenners in die Afrikaanse musiekwêreld; Elvis Blue. Hierdie verskeidenheid kunstenaars gaan vir ‘n hele aand se vermaak sorg en met ‘n feesterreinkaartjie sal jy toegang hê tot hierdie diverse groep sangers.
Innibos vind vanjaar vanaf 2 tot
5 Julie plaas. Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Vir meer inligting oor die fees, besoek gerus www.innibos.co.za of bel die feeskantoor by 013-741 5294.
