Die Mol nog in rep en roer
'n Mall in die bos? Ja! Glo dit of nie - by Innibos is alles moontlik! Vanjaar se fees gaan fanvarkietasties wees!

Die uitstallers was vanmiddag behoorlik in rep en roer om alles gereed te kry voor die hekke môre 10:00 oopgeswaai word. Die sweet het van die voorkoppe afgetap, twee vroue het reeds die eerste glasie wyn in die keel afgespoel en sommiges het laatmiddag nog met hul groot pakkasie by die hekke ingery.
Hopelik het jy ‘n hele paar rand vir Innibos eenkant gesit, want daar is iets van alle kleure en geure. Daar is alles en nog wat – van klassieke gunstelinge, Gooi Mielies T-hemde, lappoppe, en yskoue Tropica-keelnatmakertjies tot die beste olywe, huisgoed, hougoed en allerhande tierlantytjies te koop.
As die klank van die Standard Bank-verhoog so cool soos vandag geklink het, kan ons nie wag om môreaand by die Huisgenoot Afskopkonsert te wees nie. Kunstenaars soos die blondebom Karlien van Jaarsveld, die rapper Snotkop, Gerhard Steyn, Pieter Koen, Dr Victor and theRaste Rebels en natuurlik die Leeuloper Robbie Wessels sal die makietie aan die gang kry. Die show skop om 18:00 af.
Wil jy graag vanjaar se herinneringe van Innibos koester en vir altyd saam met jou dra? Skaf vir jou amptelike feeshemde, pette, bekers, lisensieskyfiehouers, en sleutelhouers aan by die stalletjie net links voordat jy die Bosmol binnegaan.
