Innibos sorg vir die gemeenskap
Die fees het ’n gemeenskapsprojek aangepak waaruit spesifiek kinders voordeel sal trek.

MBOMBELA – Innibos is nog altyd oor die gemeenskap besorgd, en vanjaar fokus die fees op die toekoms van kinders en multikulturalisme. Die fees het ’n gemeenskapsprojek aangepak waaruit spesifiek kinders voordeel sal trek. Die jonges was aktief betrokke by die skryf en illustreer van ’n veeltalige storieboek. Dit is ’n projek vir kinders deur kinders.
Innibos het hierdie projek begin om kreatiewe skryfkuns onder leerlinge in die laerskool aan te moedig. Die kinders skryf self die stories en die illustrasies word ook deur hulle gedoen. Sodoende word die leerders direk betrokke by die skryfproses en kan hulle nuwe vreugde in die wêreld van lees ontdek. Elke deelnemende skool ontvang ook 200 boeke. Die kinders kan dus hul eie skeppings in die skool lees en dit behoort leesgierigheid by hulle aan te spoor.
Hierdie projek beoog om kohesie tussen die verskillende kulture en taalgroepe in die Laeveld te bewerkstellig. Al die stories is in die verskillende leerders se moedertaal (Afrikaans, Engels en siSwati) opgeneem en al drie tale verskyn op elke bladsy van hierdie kleurvolle storieboek.
Die Mpumalanga Departement van Kuns en Kultuur en die LW Hiemstra Trust ondersteun en befonds hierdie projek. Die fondse wat hierdeur geïn word, is uitsluitlik vir kinders. Die gratis bekendstelling van Stories Innibos vind Woensdag op 2 Julie om 14:00 by Stoep langs die Innibos-kantoor plaas. Kom ondersteun hierdie gemeenskapsprojek vir die skoolkinders. Besprekings kan by 013-741-2551 gemaak word.
