Video: Innibos gaan Grieks
Min het Innibos se uitstallers geweet dat die draperings later 'n verskil gaan maak in iemand anders se lewe.
Hulle was in wit lakens getooi om in te pas by die Griekse tema, maar min het Innibos se uitstallers geweet dat die draperings later ‘n verskil gaan maak in iemand anders se lewe.
Met Steyn Fourie aan die woord as seremoniemeester, het hierdie Griekse opskop gisteraand in kykNET se kuiertent in die Bosmol plaasgevind. Een ding was verseker – die lug was gevul met ‘n feestelike atmosfeer. Daar is paartie gehou soos net die Grieke kan. Jackie Louw het bewys dat alles moontlik is Innibos toe hy sy beste danspassies op die verhoog uitgehaal het.
Selfs al het sy opvoering effe wankelrig begin met sy klankingenieurs wat aanhoudend die verkeerde backtrack gespeel het, kon dit steeds nie sy interaktiewe verhoogpersoonlikheid demp nie.
Steyn Fourie het sy kitaar gegryp en met Ghapi op die dromme het hulle ‘n paar treffers uit die oudedoos gegrawe. Hulle opvoering is egter kortgeknip deur ‘n besope boemelaar wat kom skoor soek het met die uitstallers terwyl hulle gesmul het aan hul heerlike Griekse disse. Monde het letterlik oopgehang oor sy onvanpaslike gedrag.
Hy het sy balans verloor en teen Ben Kruger vas gestruikel. Tussen Ben, Renier Engelbrecht en Sarel van Sabie, was hy tjoef tjaf op sy rug. ‘n Briesende Ben het uit die tent gestorm en met ‘n bebloede hand sy verskyning op die verhoog gemaak. Almal was onder die indruk dat hy om verskoning wou vra oor sy aggressiewe gedrag, maar daar was ‘n kinkel in die kabel. Hy het aan die geskokte uitstallers verduidelik dat, hoewel dit so bietjie hand uit geruk het, dit ‘n vooraf-geoefende foefie was. Hy het vir TJ Maré van Nelspruit Community Forum (NCF) na voor geroep – hy was al die tyd die vermomde boemelaar.
Hy het gaste vertel dat dié varksige warboel deel was van NCF se huidige gemeenskapsprojek om haweloses te voorsien van beddegoed, en dat die lakens waarin hulle gedrapeer was, geskenk gaan word aan minderbevoorregtes. Die wat nie ‘n laken aangehad het nie, moes een van hul kledingstukke opoffer.
Die aanbod was ‘n reuse verligting vir Sarel van Sabie aangesien die laken al was wat hy aangehad het.
