Geniet die vars Laeveldlug by vanjaar se kuierverhoë waar ‘n hele paar nuwe gesigte asook ou gunstelinge te siene sal wees.
Vanjaar se fees bied vermaak vir ‘n ieder en ‘n elk se musieksmaak – vir die rustiges asook die onrustiges. Behalwe vir die konserte wat elke aand op die Standard Bank-verhoog aangebied word, is daar vier ander verhoë waar talle kunstenaars gedurende die feesdae gaan optree.
Die Vodacom-kuierverhoog is op die boonste veld geleë, die kykNET-verhoog in die Bosmôl en die KMI Airport-verhoog in die kunspark. Op die Coca-Cola-rockverhoog (op die netbalbane) gaan daar kliphard gerock word, vir diegene wat nie omgee om met ore wat suis en blou tone by die huis aan te kom nie. By die Hit Factory Records-verhoog kan jy rustig in die Kaptein Kuiertuin sit en ontspan en na jou gunstelingkunstenaars luister, terwyl jy smul aan heerlik-gebraaide vleis. Dit vorm deel van talle Innibos eerstes.
Bekendes wat deur die loop van die fees te siene gaan wees op die kuierverhoë is onder andere: Albert de Wet, Ampie du Preez, David Fourie, Elvis se seun, Ghapi, Heuning, Hugo Niewoudt, Johan C Venter, Joshua na die Reën, Kaleidoskoop, MoniQue, Wynand en Cheree, Liza Brönner, Quentin Prinsloo en Dewald Wasserfall.
Nie alle vertonings word ingesluit by die hektoegang nie, maar die bogemeldes en vele meer wel. Die dak gaan beslis gelig word – dis nou te sê as daar ‘n dak was. Die volledige terreinprogram is by die hekke, Innibos se webwerf of die laaste blad van Muskiet beskikbaar.
