FeaturesInnibos NuusLifestyle

Video: Groot aanbod van visuele kuns by Innibos

"Uit plaaslike kringe is daar die gevoel dat hulle te min aandag geniet by die fees"

Superrealisme, ook genoem fotorealisme, is ‘n genre in die skilderkuns waarin die kamera en foto’s gebruik word om visuele inligting te versamel, en so dan ‘n werk te skep wat fotoagtig lyk. Dié styl het in die laat jare sestigs in Amerika kop uitgesteek as ‘n reaksie teen abstrakte ekspressionisme en minimalisme as kunsbewegings van die tyd.
Vanjaar se Innibos-feeskunstenaar, Hanneke Benade is weliswaar nie ‘n skilder nie, maar teken met pastel op groot velle papier.

Die effek is oorbluffend. Die reeks wat sy uit Kaapstad na Nelspruit gebring het, baseer sy op beelde uit die roman van die Noorweegse Nobelprys-skrywer, Knut Hamson se Growth of the Soil. Dit handel oor ‘n man wat op die Noorweegse hooglande ‘n huis wil bou en poog om ‘n selfonderhoudende agrariese bestaan te voer. Die drie karakters wat Benade op papier skep, vertel van landelikheid, van gestrooptheid en die beklemtoning van slegs enkele elemente. Met die eerste oogopslag lyk die figure gemaklik en ingeburger rondom enkele landelike elemente, maar kyk jy mooi, merk jy ‘n emosionele onrustigheid.
Die werk is te sien in die burgersentrum waar die kurator van Innibos se visuele kunsteprogram, Pieter van Heerden, direkteur van die Pretoria Kunsvereniging, ook ander interessante uitstallings bymekaar gebring het.

Dit sluit ‘n versameling in genaamd Dialoë, overgeset synde Gesprekke, wat bestaan uit die werk van ‘n lang lys Suid-Afrikaners wat deel was van die Suid-Afrika-Frankryk-seisoen en hul werk verlede jaar in Frankryk vertoon het.
Dit Blom in die Bos is ‘n versameling werke van Pretoriase kunstenaars, waaronder André Naude en Drini Jacob wat die prag van blomme besigtig.
Uit eie bodem is die uitstalling Umjindi wat die werk van plaaslike juweelontwerpers vertoon, en in die Dumela Innibos-uitstalling is die werke van onder andere Daniel Mosako en Malose Pete te sien. Ook te sien is van die werk van die Witrivierse beeldhouer, Tony Fredriksson. Laeveld-palet – Innibos, gee bietjie blootstelling aan die werk van plaaslike kunstenaars, maar miskien te min.
Uit plaaslike kringe is daar die gevoel dat hulle te min aandag geniet by die fees – vanjaar en ook in die verlede. Dit is sekerlik ‘n probleem wat in die toekoms aangespreek sal moet word.
Die uitstallings is Dinsdagaand geopen en kan daagliks vir die duur van die fees besigtig word.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button