Video: Albert en Casper herleef hul studentedae
Casper is mos bles en bedek altyd sy kaalkop met 'n hoed of pet. Deesdae spog hy ook met 'n welige (grys) baard en meld dat hy dit gekweek het om meer kunstig te lyk
Casper de Vries waag sy hand aan ‘n verfkwas? Wie sou kon raai… Maar hy het presies dit gedoen en sy werk word nou by Innibos uitgestal. Hy het ook al in die Kaap uitgestel. Of mense dit koop, sal ek nie kan sê nie. En as hulle dit koop, is dit omdat dit ‘n Casper de Vries-skepping is of werklik… kuns?
Albert Maritz, beter bekend vir sy rol as Herman Roodt in Konings en Torings, het gistermiddag met Casper oor sy nuutgevonde stokperdjie in die Boma Kuierteater gesels. Ook nie eintlik nie. Die gesprek het meer afgewyk na hulle dae saam as dramastudente op Stellenbosch en Casper se verskeie karakters in die Casper Rasper Show wat hom beroemd gemaak het.
Casper was nie al een met wie Albert en die gehoor van nader kennis gemaak het nie. Casper se honde-kinders – Halfrida en Kent – was ook daar. Casper het hoeka vir Halfrida, ‘n Duitse Herdershond, op ‘n doek vasgevang en dié skildery vorm deel van sy Innibos-uitstalling, Dierbaar, wat by Stoep te sien is. Albert het vertel hoe hy met sy fiets in Melkbosstrand gery en opgelet het watse ongelooflike subkultuur daar onder honde heers. Hulle gesels inderwaarheid met mekaar.
Party ouens het mos maar net ‘n manier om ‘n storie met flair te vertel en stertjies aan te las en Casper het op sy kenmerkende wyse by Albert aangesluit. “Ja ek ken ook al die honde in ons buurt. Hulle is Facebook-friends,” het hy opgemerk.
Casper is mos bles en bedek altyd sy kaalkop met ‘n hoed of pet. Deesdae spog hy ook met ‘n welige (grys) baard en meld dat hy dit gekweek het om meer kunstig te lyk. Uiteindelik begin die gesprek in ‘n kunssinnige rigting beweeg. Casper het verduidelik dat ‘n vriendin, Michelle Nigrini van Rosendal, graag skilder. Hy het aan haar gesê dat hy skielik hierdie drang het om te begin skilder en sy het hom aangemoedig.
Casper het homself in die rede geval en vertel dat hy op skool iets geteken het wat die juffrou wou inskryf vir ‘n kunskompetisie. Sy het hom gevra om die werk op ‘n ander medium te herhaal, maar dié poging het haar teleurgestel. “Dit het my toe geïnhibeer om weer ‘n pen aan papier te slaan,” het hy gesê.
Maar terug by Michelle. Sy gee hom toe karton en pastel en hy speel met kleure. “Dit lyk toe heel nice.” Hy het allerhande verwe by Builder’s Warehouse gekoop en begin skilder. “Ek het eers gewerk met olie, maar hallusinasies en pyne ontwikkel, toe slaan ek maar oor na akriel.”
Casper is klaar met shows, sê hy. Ja, hy sal dalk later ‘n comeback maak soos Cher en die res, maar hy het nou alles gedoen wat hy kon en dis nou tyd vir ‘n ander medium. “Dis abstrak en heerlik.”
Hy het weer van sy bekende karakters van die Casper Rasper Show nagemaak: Oom Kalamari, Hanno (Gelderblom) en Montel (Janse van Vuuren). Intussen kan hy nou Vrydae op Gareth Cliff se nuwe aanlyn-radiostasie gehoor word. Casper het, sonder skroom, gesê dat hy ‘n groot bakleiery met KykNET “opgedoen” het. Nou doen hy sketse op radio. “Ek gesels met interessante gaste. Ons het quizzes en legendes en idole, soos op Casper Rasper.”
Esels wat op die verhoog staan gemaak is waarop Casper se werke moes pronk, het leeggestaan. Sy doeke het nooit opgedaag nie. Om vas te stel of Casper werklik talent het, gaan maak ‘n draai by Stoep en besluit self.
