FeaturesInnibos NuusLifestyle

ATKV-winkel bied iets vir elke boekwurm

Gaan maak 'n draai by die ATKV Boekwinkel naby Hek 1 vir lekker-lees boeke.

MBOMBELA – Daar is hierdie jaar op die Innibos-feesterrein ‘n spesiale plekkie vir die boekwurms – die ATKV Boekwinkel.

Daar is weer tafels en tafels boeke van LAPA en ander gewilde uitgewers en met behulp van Bargain Books se personeel, sal jy beslis iets kry waarvan jy hou.

Die fokus is op Afrikaanse boeke en die penvrugte van skrywers soos Wilna Adriaanse, Irma Joubert, Koos Kombuis en Valiant Swart is daar te koop.

Snuffel tussen hope romans, kinderboeke, jeugverhale, resepteboeke, breipatrone en geskiedenisboeke en jy sal heel moontlik met ‘n sak vol uitstap.

Dié boekwinkel gaan seker maak dat daar tydens besprekings by Boeke OppiSTOEP eksemplare van die onderskeie skrywers se boeke te koop is.

Simon Bruinders gaan ook Saterdag om 11:00 die winkel besoek om sy debuutroman, Die Sideboard, te bemark en eksemplare daarvan te teken.

Besoekers aan die winkel staan ook ‘n kans om ‘n spreekwoordelike kruiwa vol boeke van Bargain Books te wen.

Dit verg net dat jy ‘n papiertjie invul. Die trekking word Saterdag gedoen, waarna die wenner sy vrag sal ontvang.

Des Badenhorst en Riaan Maritz, twee ATKV-bemarkers, sal ook gedurende die fees by die boekwinkel wees om navrae, besprekings en lidmaatskapaansoeke te hanteer. Gesels met hulle, word ‘n lid en kry ‘n geskenkpak ter waarde van R500.

Bespreek plek by een van die ATKV-oorde en staan ‘n kans om ‘n Camp Master- stoorkabinet te wen.

Die ATKV is die dryfveer agter verskeie projekte wat die Afrikaanse taal en kultuur bevorder. “Die publiek is ons goedgesind en ons waardeer hul betrokkenheid,” sê Des en vertel dat ATKV-lede vir die verskillende projekte gebruik word.

Hulle hoop om met dié boekwinkel ‘n gewoonte om meer te lees onder Afrikaanssprekendes te kweek.

Gaan sit ook gerus op die stoep en geniet ‘n koppie koffie en ‘n croissant of ‘n stuk koek by Nelspruit Foods se koffiehoekie, terwyl jy solank die eerste paar bladsye van jou nuwe boek lees.

Feesgangers kan ook kennis neem dat Klein Kariba op 1 September weer oopmaak en dat daar baie promosies gaan wees.

Riaan, die oord se bemarker, sê dat die hooffokus is om dit te beveilig en om dit weer op die selfde standaard en selfs beter as voor die vloede te kry.

Maak dus ‘n draai by die ATKV Boekwinkel en hoor meer oor die organisasie, projekte en die onderskeie vakansieoorde.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button