Ben prut vir dié wat honger ly
Sy visier is ingestel op sewe uur om die taak te verrig, en hy word ondersteun deur Laeveld SPAR, Crown National en Windhoek Lager
Saterdag gaan Ben Kruger, beter bekend as Okkie Ferreira van Binnelanders, weer ‘n poging aanwend om die rekords te laat spat met ‘n potjiekoskompetisie – teen homself!
Verlede jaar het Kruger tydens Innibos 40 potjies kos alte heerlik op die feesterrein laat prut. Sy doelwit was om sy eie potjies binne die bestek van 12 uur te krap, maar het die taak lag-lag in ses en ‘n half uur afgehandel. Hy het net op homself staatgemaak vir mannekrag, terwyl ‘n hele aantal van sy kollegas hul geesdrif vir sy poging kom wys het.
Twee organisasies, Rhino Buddies en Helpnet, het by hierdie eiesoortige fondsinsamelings- en bewusmakingsveldtog gebaat. Die inhoud van die potjies is aan Jan Publiek verkoop, en die opbrengs is deur die twee organisasies gedeel.
Vanjaar maak Ben weer so – maar dié keer is 50 potte kos die mikpunt. Sy visier is ingestel op sewe uur om die taak te verrig, en hy word ondersteun deur Laeveld SPAR, Crown National en Windhoek Lager. Helpnet (www.helpnet.org.za) is weer die begunstigde van Kruger se projek vanjaar.
Die potjiekosuitdaging is nie Kruger se enigste aktiwiteit by vanjaar se Innibos nie. Hy sal ook tydens die kunstefees in die Boma-kuierteater te sien wees met sy eenmanstuk, Babbelaas en Babers, terwyl Pieter Smith by hom aansluit om saam spookstories te vertel in Maanlig en Monsters vir die Boeke-crawl.
“Omdat ek weet waarvoor die fondse aangewend word wat deur die verkope van die potte ingesamel word, is hierdie my klein bydrae tot die verligting van hongersnood in die omgewing van Mbombela. Dit is ‘n druppel in die emmer, maar ek glo dat elke bietjie help. Wie weet, dalk is daar iemand wat my in 2015 sal wil uitdaag om behoorlik die stryd aan te sê met 60 potjiekospotte!”
Die potte gaan aan die kook bly naby die Kunstekronkel vanaf 07:00.
Navrae: Renier Engelbrecht by 074-119-0089 of Bernice by 079-494-3970. E-pos navrae kan gerig word aan kan5110navi@gmail.com
