Genoeg dop wat hard kan skop!
Of jy nou wil rondhop van een kroeg na die ander, of lojaal bly en jou tafel behou - die pryse en spyskaart bly deurgaans min of meer dieselfde.
By vanjaar se fees, soos al die vorige jare, is daar geen tekort aan drinkgoed nie. Die Laeveld se warm winter is ideaal vir ‘n yskoue dop in die hand.
Elke verhoog het een of meer biertente met ‘n wye verskeidenheid van voggies om daardie alewige dors te les. Reg rondom die hoofverhoog staan talle kroegmanne en -vroue gereed om jou met jou gunstelingdrankie te bedien – van skemerkelkies tot vatbier.
Of jy nou wil rondhop van een kroeg na die ander, of lojaal bly en jou tafel behou – die pryse en spyskaart bly deurgaans min of meer dieselfde. Reg in die middel van die kuierveld bied Brutal Fruit heerlike slush puppies teen R20 vir 350ml en R30 vir 500ml aan.
Daar is aansienlik meer kroeë wat vatbier op hul spyskaarte het as verlede jaar, onder andere die Coca-Cola-verhoog, kykNET-kuiertent en die Vodacom-kuierarea. Meeste van die tente bied siders teen R20 aan. Pryse oor die algemeen beloop tussen R15 en R16 ‘n bier, terwyl vatbier tussen R20 en R22 kos.
Een uitstaller se blink idee het by baie van die ander aangesteek. Dit word duidelik as jy kyk na die hoeveelheid kroeë wat vanjaar skemerkelkies te koop aanbied. Daar is ‘n cocktail bar wat heerlike alkoholiese slush puppies verkoop agter die Standard Bank-verhoog. By die KMIA-verhoog is daar die bekende Ciao-skemerkelkies beskikbaar wat wissel van Cosmo- tot Vodcano-geure.
Terwyl jy deur die stalletjies wandel, bied Original aan feesgangers gevriesde skemerkelkies met geure soos strawberry daiquiri tot margarita.
Byna al die kroeë bied shooters vir diegene aan wat die proses effe wil aanjaag teen tussen R20 en R30.
Daar is elke aand ‘n happy hour by verskeie tente tussen 16:00 en 18:00, moet dit nie misloop nie.
Daar is ook ‘n wye verskeidenheid van wyne om te geniet, per glas en per bottel, teen ‘n appel en ‘n ei. Onthou om nie te drink en bestuur nie, en indien jy twyfel of jy die limiet bereik het, gaan toets gerus jou alkoholvlakke naby die Fanta Pretpark.
