FeaturesInnibos NuusLifestyle

Kunspark oorrompel die sintuie

Die Kunspark Boulevard is net langs die hoofkuierveld naby die Bosbioskoop.

Geen kunstefees kan oorleef sonder visuele kuns-aanbiedinge nie en Kunspark Boulevard is gerieflik op die feesterrein geleë. Muskiet het by ‘n paar estete gaan inloer.

Elsie Kloete van Kahja Recycle in Pretoria maak matte van katoen en leer. Sy sê sy het altyd voorheen in die Bosmôl uitgestal, maar vanjaar het die organiseerders haar in die kunslaan gesit. Sy mis nooit die fees nie want sy doen altyd goeie besigheid hier.

Sy het ook onlangs begin om papier van haar oorskietstukkies katoen en leer te maak, wat sy ook te koop aanbied saam met gegeurde kruie bedoel vir die vuur van ‘n braaivleis wat haar seun maak. Sy maak ook kershouers van ou wyn- en Coke-bottels wat saam met die kerse te koop is. Moenie hierdie unieke produkte misloop nie.

Werner Willemse en Markus Pretorius van Pretorius Kuns is ook al Innibos-veterane. Hulle vertel dat hul pronkstuk teen Woensdag nog nie gearriveer het nie, maar die massiewe natuurskoon-skildery kon darem sedert gisteraand ten toon gestel word.

Jez Prettejohn van Dullstroom werk in piouter. Hy maak die mooiste juweliersware daarmee. Vanjaar het hy, om sy soveelste Innibos-fees te vier, ook ‘n reeks spesiale platannas gemaak. Kyk uit vir Dop-Anna, die padda wat maak soos vele feesgangers maar maak met ‘n glasie in die hand.

Jez stal gewoonlik aam met Arend Eloff, wat nie die fees kon meemaak nie, uit. Laasgenoemde het darem sy fynwerk-beeldhouwerk saamgestuur. Feesgangers kan ook ‘n numerologie-sessie by Sandi Amiradaki kom kry, alles onder een dak!

Barry Botes is van die nie-winsgewende organisasie Ama Wheelies, ‘n rehabilitasie- en opleidingsentrum in Lydenburg. Hy het redelik onlangs begin mondskilderye maak, en verkies wilde diere as tema.

Hy het egter ook onlangs ‘n boek geskryf, wat hy self op sy eie getik het, en teen die einde van die maand deur Author House uitgegee word. Hy beskryf sy Timbavati Secrets as fiksie wat mense interessant gaan vind as hulle dit ‘n kans gee.

Mind Shana kom al die pad van Middelburg in die Oos-Kaap af om vir die eerste keer in die Laeveld sy kleurryke werke te kom uitstal, nogal op die aanbeveling van skilder-kollegas daar.

“My vriende het gesê ek sal goed vaar hier.” Teen Woensdag was dit te vroeg om te sê hoe verkope sal loop, maar maak ‘n draai by hierdie kleurvolle stalletjie.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button