FeaturesInnibos NuusLifestyle

Trek jou dansskoene aan vir hierdie grote!

Die kunstenaars wat vanaand om 18:00 tydens die kykNET-konsert optree gaan jou voet laat jeuk om te dans.

Trek jou dansskoene aan en kom sokkie by vanaand se kykNET-konsert om 18:00. Bobby van Jaarsveld, Kurt Darren, Lianie May, Jay, Nadine en DJ Ossewa gaan daar te siene wees, so maak reg vir ‘n groot party.

Jy sal hopelik vanaand kans kry om saam met Bobby se grootste treffers soos Net vir jou, Spieëltjie, ‘n Vrou wil dit hoor en Totaal finaal te sing. Sy nuutste album, Wat geld nie kan koop nie, het binne twee weke van vrystelling platinumstatus bereik en hy het onlangs in die musiekfliek As jy sing die rol van musiekonderwyser, Stefan Conradie gespeel.

Die Kaptein, Kurt Darren, gaan verseker ‘n paar paartjies aan die dans kry met treffers soos Rebel en Rats, Seerower, Kom bietjie hier en Af en af. Die sanger het ook onlangs die Val de vie Kaptein-wynreeks bekendgestel, wat reeds op Checkers se rakke pronk.

Lianie May en Jay se nuutste treffer, Naweeklyfie, is deesdae oral op televisie te sien en speel op verskeie radiostasies. Dié twee het al verskeie bekende duette vrygestel soos In a moment like this, Lank lewe die liefde en Toe stop my hart, so feesgangers moet duim vashou dat hulle saam ‘n paar songs sal doen. Van Lianie se solo-liedjies soos Jy soen my nie meer nie en Bel, bel, bel is steeds gunstelinge in baie huishoudings, terwyl Jay se Dis hoe ons rol en Superhero (saam met Eden) ‘n stewige plek in vele playlists het.

Nádine verower sedert haar kinderdae harte met haar pragtige stem. Die bekendste van haar songs sal seker Kaapse draai bly, maar This time I know it’s for real en Lied van my hart kan ook maklik vir dae in jou kop vassit. Sy tree deesdae reg oor die wêreld op en was in November in België gewees.

Laaste, maar nie die minste nie, is die koddige manne van DJ Ossewa. Hulle sorg altyd vir baie pret en komedie op die verhoog en vanaand behoort nie ‘n uitsondering te wees nie. Hul treffers sluit in Looki Looki, Briljantjie, Sonbrilletjies en Stukkie van der Merwe.

Maak seker jy het ‘n lafenis in die hand en kry vroeg jou sit sodat jy nie een van hierdie topkunstenaars misloop nie.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button