Frikkie se are is nes joune, vlak onder sy varkvel
Maak 'n draai by die bloedbank se stalletjie op die feesterrein. Hulle bly tot laat oop.

MBOMBELA – Innibos is alles moontlik: varke kan vlieg en poppe kan bloed skenk! Frikkie die Feesvark wat vlieg het sommer die week met ‘n kuiertjie by die Suid-Afrikaanse Nasionale bloedbank (Sanbs) afgeskop om ook sy deel vir dié goeie saak te doen.
Boonop is van Sanbs se mees gereelde staatmakerbronne van bloed, skole en kolleges, vir die vakansie gesluit. Teen Maandag het die nasionale bloedvoorraad op slegs 2,8 dae, baie laer as die teiken van minstens vyf dae, gestaan.
Die bloedbank gaan vanjaar dus weer ‘n stalletjie op die feesterrein by Innibos beman. Kom maak ‘n draai, dis goed vir jou gesondheid en jy kan tot vier mense help met net een eenheid geskenkte bloed. En as Frikkie dit boonop kan doen…
Die stalletjie op die feesterrein by Hoërskool Bergvlam langs die kosstalletjies in die Bosmôl sal elke dag tot Saterdag vanaf 10:00 tot 21:00 oop wees. Dit is besonder veilig om bloed te skenk. Met elke skenking word nuwe gesteriliseerde toerusting gebruik. Mense moet ook minstens 56 dae ná elke skenking wag sodat hul liggame kan herstel, voordat hulle weer aanmeld.
‘n Vingerpriktoets vooraf bepaal of jou yster binne veilige vlakke is, en jou polsslag en bloeddruk word getoets om seker te maak dat jy maar ‘n bietjie bloed mag verloor.
Om te kan skenk, moet jy ouer as 16 wees, ten minste 50kg weeg en algemene goeie gesondheid geniet. As ‘n reël mag mense nie op 65 of ouer vir die eerste keer begin skenk nie, maar gereelde skenkers word toegelaat om verby hierdie ouderdom aan te hou mits hul gesondheid dit toelaat.
