Boemelaar kul gaste met ‘n skyngeveg in kuiertent
Hy het uitgeput aan gaste vertel dat dié varksige warboel deel was van NGF se huidige gemeenskapsprojek
Gedurende die Griekeland-party vir uitstallers wat Dinsdagaand in kykNET se kuiertent plaasgevind het, was Ben Kruger in ‘n voorval betrokke wat deur talle feesgangers misinterpreteer is.
Maar wat regtig daar gebeur het, was glad nie die bakleiery soos gerugte loop nie. ‘n Onbekende boemelaar het die tent betree en begin skoor soek met uitstallers. Hy het onder andere vir sigarette gevra, daarna gekyk en weggegooi.
Van tafel tot tafel het hy beweeg en mense se drankies gegryp, daaraan geruik, en met ‘n vies houding uitgegooi.
Sy onvanpaste gedrag, tipies soos dié van ‘n besope boemelaar het uitstallers lelik omgekrap. As dit nie vir sy volgende stap was nie, sou iemand hom definitief bymekaar gemaak het. Hy het doelbewus sy balans verloor en teen Ben Kruger, beter bekend as Okkie Ferreira van Binneland, vas gestruikel.
Alhoewel dit bietjie afgewyk het van Kruger se aanvanklike geheime plannetjie, het hy, Renier Engelbrecht en Sarel van Sabie hom na ‘n reusegestoei hardhandig grond toe gedwing. Dié boemelaar het beseer gelyk en het vir etlike minute op die grond bly lê.
‘n Vertoning deur Steyn Fourie en Ghapi is in die proses varkagtig onderbreuk deur die vermeende kabaal.
Die voorval wat uitstallers met goeie rede verskriklik omgekrap het, het nóg meer geloofwaardig geraak toe Kruger sy hand in die proses met ‘n gebreekte wynglas oopsny. Bebloed en briesend het hy na die verhoog gestorm en sy verskyning gemaak.
Uitasem het hy aan feesgangers verduidelik: “Dames en here, dit wat julle nou net gesien het, was ‘n grap, en glad nie ‘n ware insident nie.”
Hy het vir TJ Maré van Nelspruit Gemeenskapsforum (NGF) na vore geroep – dié was al die tyd die vermomde boemelaar.
Hy het uitgeput aan gaste vertel dat dié varksige warboel deel was van NGF se huidige gemeenskapsprojek om beddegoed vir haweloses in te samel. Die lakens waarin hulle gedrapeer was, wat deel gevorm het van die Griekse tema, gaan aan minderbevoorregtes geskenk word. Alhoewel hy genoem het dat hy nie onder die indruk was dat hulle hom regtig gaan slaan nie, het hy gaste gerusgestel dat dit ‘n foefie was.
Kruger het aan Muskiet vertel dat sy hand nie steke moes kry soos wat gerugte die rondes doen nie.
“Al is my hand in ‘n verband, makeer dit eintlik niks – dis net ‘n ou snytjie.” Alles gaan aan soos normaalweg. Volgens Sandra Jacobs, bemarkingsbestuurder van Innibos was dit net ‘n voorafbeplande “verrassing” vir die partytjie en glad nie ‘n regte bakleiery nie.
Dit het ten volle aangesluit met Innibos se tema dat alles moontlik is.
